12.08.2010 Skool kry meer as N$ 500 000
 Lede van die Tafelronde 154 in Nederland en Namibië se Hochland 154 Tafelronde verskyn hier saam met die skoolhoof van Dagbreek, mnr. Paul du Plessis (regs voor) by een van die vraghouers.
DAGBREEK Skool het onlangs ‘n skenking van meer as ‘n halfmiljoen Namibiese dollar ten bate van die skool se bouprojek van ‘n Tafelronde in Nederland ontvang.
Die Hochland Tafelronde 154 in Namibië het ‘n tweeling Tafelronde 154 in Nederland en agt Nederlandse gesinne verbonde aan die Tafelronde is tans op besoek aan Namibië met die doel om hul Namibiese projek te ondersteun.
In Nederland is ‘n bedrag van N$501 540 ingesamel toe ‘n visvendusie gehou is, en die seun van mnr. Willem Vandraage het by sy skool in Holland ‘n verdere N$12 500 ingesamel. Die totale bedrag is aan Dagbreek geskenk.
“Ons beplan om die geld te gebruik vir die bou van ‘n sentrum vir serebraal gestremde en outistiese kinders, asook om nog klasse en ‘n skoolsaal te bou,” het mnr. Paul du Plessis, Dagbreek se skoolhoof gesê.
Die geld was egter nie die eerste bydrae wat die Nederlandse Tafelronde aan Dagbreek gemaak het nie – hul het verlede jaar twee vraghouers vol skoolbanke en stoele geskenk. Die banke en stoele word gebruik in die vier nuwe klaskamers wat reeds gebou is.
Die skool is baie dankbaar vir die bydraes en die skoolhoof sê dit help om ‘n groot droom te verwesenlik.
Indien enige persoon of instansie verdere bydraes tot die skool se bouprojek wil maak, kan hulle met mnr. Du Plessis by 061-227 901 in verbinding tree.
|