4.08.2010 Projek eindig op hoë noot
 Die kinders van Hope Village met hul KFC-kospakkies.
DIE oorhandiging van die Winter Cosy-geboutjie aan Hope Village in Katutura verlede week, het glimlagte op die kinders se gesigte gesit en terselfdertyd in ’n groot behoefte voorsien.
Die doel van die Winter Cosy-projek wat deur die radiostasie 99fm en Namlish.com begin is en deur KFC geborg was, was om geld in te samel om ’n snoesige plek vir die kinders van Hope Village te skep.
Hope Village is ’n veilige hawe vir vigsweeskinders en ander kwesbare kinders waar hulle kan leer en speel. Die projek het uit drie dele bestaan waarvan die eerste een ’n skryfkompetisie was en die tweede gedeeltelik uit ’n skenkingsprogram bestaan het. Die laaste deel van die projek het uit die fisiese bou van die Winter Cosy-opslaangebou bestaan.
Vir die skryfkompetisie het 99fm en Namlish alle laerskool- en hoërskoolleerlinge genooi om ’n opstel oor enige onderwerp van hul keuse te skryf. Vir elke inskrywing vir die kompetisie wat ontvang is, het KFC N$5 aan die projek geskenk.
Die tweede gedeelte van die projek het behels ’n telethon wat 99fm aangebied het en wat N$50 000 opgelewer het. Verskeie skenkings in die vorm van kos, klere en komberse is deur die publiek gemaak.
Ter viering van die geleentheid het KFC die kos vir die kinders voorsien. Me. Tania Ward van Hope Village het gesê dat hierdie Winter Cosy-gebou ’n ruimte sal wees waar kinders kan speel, groei en ontwikkel.
Sy het verder gesê dat dit projekte soos hierdie is, wat dit die moeite werd maak om elke oggend op te staan en om aan te hou om goeie dade te doen.
|