
Verlate. Die klaskamers by die Privaatskool Moria staan leeg na 'n epidemiese uitbreking van masels en Duitse masels.
WEENS ’n uitbreking van Duitse masels en masels onder leerlinge en personeel van die Privaatskool Moria op Outjo, het die skool Woensdagoggend onder aanbeveling van die dokters en ná ’n noodvergadering met die direksie vir alle graad 1- to 11 -leerlinge gesluit.
Leerlinge het gisteroggend ingekom vir ‘n normale eksamen en matrieks vir hulle gewone klasse toe hulle die nuus ontvang het dat dit hulle laaste dag sou wees. Die skool het vir vier weke gesluit.
Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis wat so iets gebeur.
Die ouers van koshuisleerlinge is aanbeveel om hulle kinders so gou as moontlik te kom haal. Intussen sal die koshuis nog steeds oop wees vir leerlinge vir wie se ouers dit nie moontlik is nie.
Die skool open weer Maandag 6 September aangesien Duitse masels ‘n inkubasie tydperk het van 21 dae en masels 14 dae het. Dus kan enige kind wat Woensdag nog die virus opgetel het, eers oor drie weke siek word. Daarom het die skool geen keuse gehad as om die 30 leerlinge wat reeds die virus opgedoen het sover as moontlik van die gesondes kinders weg te hou. Ouers is ook aangeraai om hul kinders te laat inent om sodoende immuniteit teen die siekte te verhoog.
Die leerlinge van graad 4 tot graad 11 wat reeds begin het met eksamen, sal nou ’n lekker lang tyd hê om te leer. Wanneer die skool op Maandag 6 September open, gaan die eksamen gekompakteer word om in vier dae te voltooi. Hulle sal in die oggende, middae en self Saterdae moet skryf om klaar te kry aangesien normale klasse intussen nog ook moet verloop en om voor die skou klaar te maak.
Die graad 12-leerlinge word nie geraak nie en dus gaan hulle nou alleen skool saam met die onderwysers tot en met 19 Augustus.