16.06.2008 Pre-primêre skole gaan verdubbel
PRE-PRIMÊRE onderwys word vanjaar by 100 skole landwyd aangebied en die getal behoort teen aanstaande jaar te verdubbel. So sê die Adjunkminister van Onderwys, dr. Becky Njoze-Ojo, in die Nasionale Vergadering op vrae van me. Elma Dienda van die Congress of Democrats (CoD) oor onderwysaangeleenthede geantwoord.
Me. Dienda wou weet of die Ministerie nie sy beleid oor die ouderdom van skooltoelating wil hersien nie omdat baie kinders wat in graad 1 sewe jaar oud word, nog nie skoolgereed is nie. Hulle moet spesiale hulp kry om hulle skoolgereed te maak terwyl ander sesjariges wel skoolgereed is.
Dr. Njoze-Ojo sê die pre-primêre fase sal vir kinders tussen die ouderdomme van vyf en ses jaar aangebied word, laer primêre onderwys vir die sewe- tot 10-jariges, hoër primêre onderwys vir die 11- tot 13-jariges, junior sekondêre onderwys vir die 14- tot 16-jariges en senior sekondêre onderwys vir die 17- en 18-jariges.
Me. Dienda het ook vrae gevra oor skoolmeisies wat swanger word en deur die Ministerie verplig word om vir ‘n jaar na die geboorte van die baba tuis te bly, terwyl die skoolgaande vaders van die babas toegelaat word om met hul klasse voort te gaan.
Sy wou weet of, indien die meisie kan bewys dat sy iemand het om na die baba om te sien, sy nie toegelaat kan word om haar klasbywoning sonder onderbreking voort te sit nie. Sy sê voorts dit is moeilik vir ‘n meisie wat ‘n jaar weg was uit die skool om na die boeke terug te keer.
Dit wil vir haar voorkom asof dié reëling van die Ministerie die meisies straf. Dr. Njoze-Ojo het gesê die bestaande beleid is daarop gemik om meisies die kans te gun om vir ‘n jaar na hul eie babas om te sien, veral omdat babas hul biologiese ma’s nodig het vir versorging in die eerste maande na geboorte.
“Die beleid is ingestel om te verhoed dat leerlinge babas kry soos hulle wil en vinnig terugkeer skool toe asof niks gebeur het nie en dit morele implikasies inhou. “Die Ministerie is van mening dat seksuele aktiwiteite moet wag tot ‘n leerling formele skoolopleiding voltooi het, wat die leerlinge sal toelaat om die maksimum aandag aan opvoedkundige programme te gee.
“Deur ‘n jaar van die skool weg te bly, moet nie as straf gesien word nie, maar eerder ‘n poging van die Ministerie om die nasie te help deur die moeder toe te laat om liefde en versorging aan die nuwe baba te gee. Die een jaar weg behoort gesien te word as ‘n rehabilitasie-tydperk vir die jong moeder om haarself geestelik en fisies voor te berei om met haar onderrig voort te gaan.
“Gewoonlik is leerlinge wat swanger geraak het en terugkom skool toe baie meer vasberade as ooit om hul skoolloopbane te voltooi. Ouers, onderwysers en voogde moet ook ‘n belangrike rol speel en seker maak dat hierdie leerlinge gereed is om met hul onderrig voort te gaan en ook om hul verantwoordelikhede ten opsigte van die babas na te kom,” het dr. Njoze-Ojo gesê.
|