
Erentia Bedeker (links) van Sekondêre Skool Otjiwarongo en Saarti Shaakuleni van St. Boniface College op Rundu staan met die toekennings wat deur Prudential Namibia aan hulle oorhandig is.
TWEE van Namibië se topstudente, Saarti Shaakuleni van St. Boniface College op Rundu en Erentia Bedeker van Sekondêre Skool Otjiwarongo, het onlangs elk ’n kontantprys van N$45 000 ontvang om hulle te help om hul studiekoste te delg.
Die skenking is deur Prudential Namibia gemaak en die geld sal teen N$15 000 per jaar betaal word aan die universiteite waar Saarti en Erentia gaan studeer. Saarti wil haar as meganiese ingenieur aan die Universiteit van Kaapstad (UCT) bekwaam en Erentia wil graag drama by die Universiteit van Stellenbosch (US) studeer.
Hulle is gekies op grond van die uitslae wat hulle in die graad 10-eindeksamen in 2008 behaal het. Albei het meer as 90 persent vir wiskunde in die eksamen behaal en het ook hoë punte in ander vakke behaal.
Die besturende direkteur van Prudential Namibia, mnr. Gunton Cloete, het gesê Saarti en Erentia het vanaf graad 10 die topposisies in hul klasse behaal en Prudential glo dat hulle oor die nodige eienskappe beskik om in leiers op hul onderskeie gebiede te ontwikkel.
Mnr. Cloete het verder gesê Prudential het verskeie geldelike inisiatiewe wat op die jeug gefokus is om hul te help om hul volle potensiaal te ontgin.