NADAT geen student na vore gekom het om aantygings te bevestig dat seks vir punte by die Universiteit van Namibië verruil word nie, het die Unam-bestuur die ondersoek afgelas. Na aanleiding van mediaberigte dat beweerde onprofessionele gedrag van dosente en studente aangemeld is, is ’n interne ondersoek van stapel gestuur om die akkuraatheid van die bewerings by al die Unam-kampusse te bepaal. In Augustus vanjaar het die studente ’n reeks skokkende onthullings aan die Adjunkminister van Onderwys, dr.
David Namwandi, gemaak tydens ’n vergadering wat bedoel was om ongerymdhede uit te stryk. Volgens een van die vroulike lede van die studenteraad is sy bewus van heelwat meisies wat “seksueel oordraagbare punte” gekry het toe hulle “ja” gesê het. “Die wat nee gesê het, se punte bly onveranderd. ’n Ander spesifieke meisie se gemiddeld het weer van 43% na 98% gestyg,” is beweer. ’n Ander studenteraadslid het gesê 60% van die studente in hul finale jaar van ekonomiese en bestuurswetenskap het nie onderrig ontvang nie.
Die bestuur van die Universiteit was sedertdien met ’n ondersoek besig. Vir die oefening is ’n omgewing geskep waarbinne studente met inligting oor hierdie beweerde onreëlmatighede na vore kon kom. Hierdie proses het vraelyste ingesluit wat anonimiteit gewaarborg het en onderhoude is gevoer met diegene wat bereid was om na vore te kom. Een bewerings destyds was dat sommige dosente opdragte namens hul studente in ruil vir geld doen. In aparte verslae was ook beweer dat sommige dosente punte toeken aan studente in ruil vir seksuele gunste.
“Die Universiteit beskou hierdie bewerings en die gevolge daarvan in ’n baie ernstige lig en is dus daarvan bewus dat ’n korrektiewe maatreël nie ’n eenmalige gebeurtenis kan wees nie. Die Universiteit sal op geen manier die onprofessionele gedrag van beweerde oortreders kwytskeld nie,” lui ’n mediaverklaring wat na afloop van die ondersoek aan verskillende mediahuise vrygestel is.
“Die doel van die ondersoek is tweeledig: Eerstens, om die waarheid te ontbloot en tweedens, om bewustheid te skep oor kwessies met betrekking tot onprofessionele gedrag van dosente en studente, sowel as algemene welsyn en gedragsprobleme op kampusse. “Die Universiteit bly bewus van al die beginsels van wettigheid en so ’n ernstige bewering vereis wesenlike bewyse. Unam of enige ander instansie in Namibië sal nie in staat wees om voort te gaan met optrede nie, tensy daar getuies is wat ons toelaat om van onregmatige optrede te getuig.” Die verslag wat uit die ondersoek saamgestel is, sal dus nie openbaar gemaak word nie.