
Me. Frances Ferreira
DIE hegte integrasie van akademiese, beroepsgerigte en tegniese skoling is al uitweg vir opvoedkundige stelsels soos dié in Namibië, waar groot massas burgers nie voltyds hul skoolloopbane kan voltooi of verder kan gaan studeer nie, maar van ope en afstandsonderrig afhanklik is om hul lot te verbeter en ’n positiewe bydrae tot ontwikkeling te maak.
Wêreldwyd is tans sowat 400 miljoen kinders wat nie skoolgaan nie, het me. Frances Ferreira van die Commonwealth of Learning (COL), ’n Statebondsliggaam wat spesifiek op ope en afstandsonderrig fokus, in Windhoek by die opening van ’n internasionale slypskool oor die verbeterde monitering en evaluering van sulke leerprogramme se doeltreffendheid gesê.
Ongeveer 200 miljoen van die kinders wag volgens dr. Sitansu Sekhar Jena van Indië vir ’n plek in die hoërskool. Die wêreld het tans ’n tekort aan tien miljoen onderwysers, het me. Ferreira bygevoeg.
Regoor die planeet word ope en afstandsonderrig volgens haar gevolglik al meer noodsaaklike vorms van onderwys.
“Ons kinders verlaat die skool teen ’n onrusbarende tempo,” het me. Claudia Tjikuua, direkteur van lewenslange onderrig in die Ministerie van Onderwys, die harde werklikheid in Namibië namens die Minister, dr. Abraham Iyambo, geskets.
“Ons sit op ’n tydbom. Daar is hoop vir hierdie jongmense,” het sy egter benadruk. Volgens dr. Jena, voorsitter van die Commonwealth Open Schooling Association (COMOSA), is die enorme druk op formele sekondêre, senior sekondêre en tersiêre onderwys ’n gevolg van die goeie vordering met die nakoming van die Millenniumontwikkelingsdoelwit oor universele laerskoolopvoeding.
Baie meer kinders kan nou wêreldwyd hoërskool toe gaan of verder studeer, sonder dat vir hulle plek op die skoolbanke en in lesingsale is. Hoërskoolonderrig, het dr. Jena bygevoeg, is boonop gemiddeld twee keer duurder as laerskoolonderwys.
Net in Indië staan die National Institute for Open Schooling (NIOS), die grootste van sy soort in die wêreld, volgens hom voor die uitdaging om ’n hele 12 miljoen studente te absorbeer.
Die oplossing vir Namibië lê volgens me. Tjikuua in ope en afstandsonderrig wat die samelewing en ekonomie kan transformeer deur ’n einde aan armoede en oningeligtheid te bring. Die sleutel lê volgens dr. Jena in die integrasie van akademiese, beroeps- en tegniese onderrig – wat aan jong burgers ’n bestaansheenkome sal bied.
“Die opvoeding wat kinders kry, moet betekenisvol vir hul lewens wees,” het hy benadruk.
Me. Ferreira het gesê ope en afstandsonderrig is net sinvol as dit lande help om hul ontwikkelingsdoelwitte te bereik en as leerinhoude in die behoeftes van alle rolspelers, onder wie werkgewers, voldoen.
“Ons het al baie groot vordering gemaak en baie lesse geleer, maar daar bly ontsettend baie oor om te doen,” het sy beklemtoon. Derhalwe, het me. Tjikuua benadruk, is dit kritiek om baie duidelike doelwitte te stel en vordering en prestasie baie nougeset te meet. As waarskynlik die mees dinamiese soort onderwys, moet ope en afstandsonderrig volgens haar in staat wees om blitsvinnig van koers te verander.
“Tegnologie ontwikkel meedoënloos,” het me. Tjikuua die toehoorders herinner. Die mobilisering van meer bronne en meer kostedoeltreffende modelle vir ope en afstandsonderrig is volgens dr. Jena internasionaal belangrike mikpunte.
Lande moet volgens hom ook meganismes versterk om suksesvolle praktyke onderling uit te ruil. Dr. Godson Gatsha van Botswana het Namibië se besluit om ’n afsonderlike direktoraat vir lewenslange opvoeding in die lewe te roep, as ’n prysenswaardige voorbeeld vir alle SADC-state geloof.
Volgens me. Tjikuua is haar direktoraat se geldjies egter maar skraps en is dit ’n groot uitdaging om van ope en afstandsonderrig meer as die “stiefkind” van formele onderwys te maak.
“Ons voel geëerd om jul gasheer te wees,” het mnr. Heroldt Murangi, Namcol se direkteur, aan afgevaardigdes uit Nigerië, die Seychelle, Malawi, Lesotho, Botswana, Ghana, Mosambiek, Tanzanië, Zambië, Indië, Suid- Afrika en Swaziland gesê.
“Hierdie is die mense se kollege,” het hy oor Namcol gesê, wat volgens me. Ferreira ’n spieëlbeeld van die eenwording en versoening in Namibië is.
Evaluering en monitering word volgens mnr. Murangi dikwels as ’n deurslaggewende bestuurswerktuig afgeskeep ten koste van die ontwikkeling van nuwe studiegidse, beter ondersteuningsdienste vir studente en logistieke kwessies soos finansies.
Onderwys kan die wêreld verander, het me. Rholene Bok, Namcol se bestuurder vir bemarking en verkope, van mnr. Nelson Mandela se groot woorde geleen.
“Ons moenie net praat nie, maar ’n verskil maak,” was mnr. Jan Nitschke, bestuurder vir navorsing en evaluering, se boodskap.