24.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

21.11.2011

Onderwys boer agteruit

© Republikein
NAMIBIЁ het van sy 74ste posisie in 2007 teruggesak na die 83ste plek in 2008 op die wêreldindeks wat lande se vordering in die ontwikkeling van onderwystoegang vir almal meet.

Groot kommer heers oor die gehalte van onderwys wat veral kinders uit die armste gemeenskappe in die land ontvang. Baie van hierdie kinders verlaat die skool sonder dat hulle die basiese lees- en syferkennis onder die knie het.

Die Onderwys vir Almal Ontwikkelingsindeks (EDI) is ’n meetinstrument wat bepaal hoe die onderwysstelsels van 127 lande in die wêreld presteer. Dit bepaal hoeveel kinders ingeskryf is vir primêre onderrig, hoeveel mense bo 15 jaar kan lees en skryf, of seuns en meisies gelyke toegang het tot laer- en hoërskoolonderrig en hoeveel kinders na graad 5 uitsak en nie verder skool bywoon nie.

Prof. Alaphia Wright, ’n direkteur van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (Unesco) en dié organisasie se verteenwoordiger by die Windhoek-groep van lande, sê Namibië se swakker prestasie in die EDI kan toegeskryf word aan die oneweredige ontwikkeling van die verskillende elemente wat gebruik is om die land se prestasie te meet.

Hy sê hoewel Namibië effens beter gevaar het ten opsigte van die inskrywing van kinders vir primêre onderwys en die geletterdheid van volwassenes, verlaat heelwat meer kinders as vroeër die skool teen die tyd dat hulle graad 5 bereik.

Prof. Wright was Vrydag in Windhoek een van die sprekers by die jaarvergadering van die Namibië Nasionale Kommissie vir Unesco.

Namibië se vordering met Onderwys vir Almal (EFA) en die onderwysverwante Millennium Ontwikkelingsdoelwitte was by hierdie vergadering bespreek.

Die onderwerp is gekies om vas te stel waar Namibië staan in vergelyking met ander lande in die wêreld, op die vasteland, asook in die streek.

Volgens prof. Wright plaas Namibië se 83ste plek op die lys van 127 lande hom in die medium kategorie. Lande wat die eerste tot 62ste plekke beklee, val in die hoë kategorie. Geen land in Afrika suid van die Sahara kon egter ’n plek in hierdie kategorie behaal nie. Die enigste land suid van die Sahara wat beter presteer het as Namibië, is Mauritius (67ste). Botswana is 84ste, Swaziland 94ste, Zambië 95ste en Lesotho en Mosambiek in onderskeidelik plek nommer 103 en 118.

Suid-Afrika was nie by die EDI ingesluit nie omdat al die data wat nodig is om die berekening te doen, nie beskikbaar was nie, sê prof. Wright.

Hy sê Namibië is verder een van net ’n handjievol lande in Afrika suid van die Sahara waar die syfer vir Vroeë Kinderversorging en -ontwikkeling teruggesak het van 34% in 2004 tot 31% in 2008.

Inskrywing van kinders by voorskoolse programme het egter meer as verdubbel (van 8,51% in 2006 tot 247,77% in 2007) vanweë die inlywing van die preprimêre programme by laerskoolopleiding.

Ander kommerwekkende statistiek wat hy uitgelig het, is dat die inskrywing van leerlinge vir laerskoolonderwys in Namibië van 1999 tot 2008 met net een persent toegeneem het van 88% na 89%. Verder het die syfer vir leerlinge wat van graad 1 tot graad 7 skool bywoon, gedaal van 93% in 1999 tot 87% in 2008. Dit beteken dat heelwat laerskoolleerlinge uitsak voordat hulle graad 7 bereik.

Wat geslagsgelykheid betref, is meer meisies as seuns tans by sekondêre onderwysinstellings in die land ingeskryf – wat een van die min ontwikkelingsdoelwitte is waar Namibië presteer het.

Prof. Wright sê die gehalte van onderwys in Namibië is kommerwekkend omdat baie kinders wat die skool verlaat nie lees- en syfergeletterd is nie. Hy skryf dit toe aan die groot gaping tussen ryk en arm in die land, met kinders uit gegoede huise wat aan ’n beter gehalte onderwys blootgestel word as kinders uit arm huise.