18.08.2010 Nuwe graduandi aanwins vir Namibië
 Tressia Nakalondo ontvang haar sertifikaat van dr. Vaino Shivute (middel) en mnr. Cliff Olivier.
“Vakopleiding is die grondslag van die ekonomie van ‘n ontwikkelende land.”
So het die Minister van Onderwys, dr. Abraham Iyambo, se boodskap gelui wat deur die hoof uitvoerende direkteur van NamWater, dr. Vaino Shivute, aan die graduandi van NamWater se ontwikkeling- en opleidingsentrum voorgelees is.
Kandidate wat hul studies voltooi het in die algemene elektriese program, waterversorging, dieselwerktuigkunde, skrynwerk, basiese rekenaar vaardigheid en senior primêre opvoeding vir volwassenes, het in ‘n seremonie op 6 Augustus hul sertifikate ontvang.
In sy boodskap het dr. Iyambo gesê dat die Regering, in samewerking met belanghebbendes, daartoe verbind is om alle Namibiërs toegang tot kwaliteit opleidingsprogramme te bied om sodoende kennis, begrip, bekwaamhede, waardes en gesindhede te kweek wat deurgaans sal geld.
“Dit behoort almal se verantwoordelikheid te wees om die Regering te ondersteun en by te dra tot pogings om in 2030 as nywerheidsland te kwalifiseer.”
Leerlinge wat spesiale toekennings ontvang het vir uitstaande prestasies, is Richardt Rainold Aebeb met ‘n gemiddeld van 87% in die algemene elektriese program. Hy is ook as algehele beste student aangewys.
Victoria Kafita het ‘n gemiddeld van 85% behaal, Amunyela Gideon het 73% in skrynwerk behaal en Nghuulikwa N. Haitula het ‘n gemiddeld van 67% vir dieselwerktuigkunde behaal. Laasgenoemde is reeds as voorman by Navachab-myn aangestel.
|