
Die leerlinge wat op die oomblik by die Privaatskool Mount Etjo geskool word saam met hul onderwysers, me. Elize Streamke (links) en me. Annatjie van Wyk.
WIE sou nou kon dink dat die naam van ’n Namibiese seun wat in ’n plaasskooltjie geskool is, op ’n lys van uitblinkers by die Universiteit van Stellenbosch sou verskyn?
Alexander Oelofse is een van vier studente wat N$100 000 se toerusting vir hul universiteit gewen het vir hulle beste ontwerp en masjien om sokkerballe mee uit te skiet. Hulle het ook ’n tiendag lange reis na Duitsland (alle koste ingesluit) gewen.

Die wenspan: mnre. Deetlefs, Mofokeng, Du Plessis en Oelofse (agter).
Die kompetisie was die PneuDrive Challenge 2010 en die doel was om met nuwe ontwerpe op die gebied van megatronika vorendag te kom. Die tema van vanjaar se kompetisie was “beweging in sport” en Alexander en sy mede-studente (almal meganiese ingenieurstudente), mnre. Deetlefs, Mofokeng en Du Plessis, het die Tsha-balala sokkerbalskietmasjien gebou.
Die Stellenbosse span het die oefeningpraktyke van sokkerspanne as die grootste geleentheid gesien om ’n “sportoplossing” te ontwerp. ’n Moontlike tekortkoming in baie oefensessies kan gekoppel word aan die doelwagter. Wanneer ’n doelwagter afgerig word, word van die res van die spelers verwag om doele te skop, wat hul oefentyd verminder.
Die spelers se doelskoppe raak ook mettertyd voorspelbaar. Die Tsha-balala-masjien kan die afrigting namaak en boonop onvoorspelbare doele skiet. Dit bring mee dat die veldspelers hulle oefentyd optimaal benut en die doeltreffendheid van die doelwagter se afrigting verbeter.
Luidens ’n mediaverklaring van Sew-Eurodrive, wat die kompetisie aangebied het, was die beoordelaars baie beïndruk met die gebruikersvriendelike masjien. ’n Verslag wat saam met die masjien ingedien is, wys ook op veiligheidsaspekte daarvan, energiedoeltreffendheid en koste- en sakelewensvatbaarheid.
“Die hoeveelheid detail in die ontwerp se tekening en die tyd en dinkwerk wat aan die projek bestee is, het die beoordelaars in die besonder beïndruk,” lui die verklaring.
Alexander het sy skoolopleiding by die Privaatskool Mount Etjo in die Otjiwarongo-omgewing ontvang. Alexander se ma, me. Annette Oelofse, het aan Republikein vertel Alexander was van graad 1 tot graad 12 in die skooltjie. Hy is nou in sy finale jaar by die Universiteit van Stellenbosch. Maar, sê sy, hy is nie die enigste uitblinker nie.
“Die ses leerlinge wat saam met hom matriek geskryf het, presteer ook baie goed.”
Marathe Zaahl is nou ’n rekenkundige by Standard Bank ná sy haar kursus gedeeltelik aan die Universiteit van Stellenbosch afgelê het, Yasonny Paulus studeer medies by die Universiteit van Namibië se nuwe mediese fakulteit, Christian Tors sluit hierdie jaar af op Stellenbosch as ’n chemiese ingenieur, Oliver Tors studeer geologie aan die Universiteit van Stellenbosch, Ambrosius Kahengombe is ’n vliegtuigmeganikus en Lesley Paulus volg ‘n loopbaan in die polisiemag.
“Ons is trots op die kinders in ons skool en hul prestasie is ’n bewys dat leerlinge maar onder ’n boom kan skoolgaan, solank hulle uitstekende onderwysers het. Die fondasies by die Privaatskool Mount Etjo vir die bogenoemde leerlinge is deur uitstekende onderwysers Marieta van Zyl, Chrisman en Trudi Stander gelê.
Vandag se 33 leerlinge by die skool presteer as gevolg van die harde werk wat deur mee. Annetjie van Wyk en Elize Straemke gelewer word. Ons het tot vandag nog geen rekenaars in die skool nie. Dit is dissipline, toewyding en harde werk van die onderwysers wat ‘n kind ‘n kans op die loopbaan gee,” het me. Oelofse afgesluit.