
Dr. David Namwandi
DIE graad 12-uitslae van voltydse kandidate vir die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat op Gewone Vlak (NSSCO) wat vandag landwyd beskikbaar is, is opnuut beter as prestasies in 2010.
Die ongelukkige suur saam met die soet is egter dat sowat 1 000 minder van alle skoolverlaters ’n universiteitsloopbaan sal kan volg.
Die direkteur van eksamens, mnr. Cavin Nyambe, het bevestig dat die meer as 6 000 graad 12’s wat verder sal kan studeer, aansienlik minder is as die 7 237 van 2010. Streekkantore sal volgens hom dringend planne moet beraam hoe om die agteruitgang teen te werk.
Die oorsaak is volgens Nyambe ’n oorhoofse afname in die aantal beter graderings en simbole wat vir universiteitstoelating nodig is.
“Dit is nie die einde van die wêreld nie,” was dr. David Namwandi, Adjunkminister van Onderwys, se troosboodskap aan skoolverlaters wat nie kan gaan studeer nie. “Daar is altyd ’n tweede kans in die lewe. ’n Mens kan van enige terugslag in die lewe herstel.”
Hy het beklemtoon dat ’n akademiese studierigting nie almal beskore is nie en dat die ekonomiese groei van Namibië ewe veel afhang van mense wat goed opgelei is in ambagte en oor tegniese vaardighede beskik.
Namwandi het die meer as 1 000 kandidate met D- en E-simbole en ’n totaal van 22 tot 24 punte aangemoedig om by Namcol of beroepsopleidingskolleges in te skryf. Die minimumvereiste vir universiteitstoelating is ’n C- of D-simbool vir Engels op gewone vlak, of ’n 4-gradering op hoërvlak vir die ampstaal, met 25 punte.
Die uitslae wat vir die eerste keer sedert 1994 reeds middel-Januarie verskyn en nie die einde van die maand nie, toon ’n 0,5% afname in die aantal vakinskrywings deur 20 273 voltydse kandidate wat nie ’n simbool ontvang het nie. ’n Totaal van 93,6% van inskrywings is wel gegradeer.
Leerlinge het meer A- tot Dsimbole, minder E’s, maar meer F- en G-simbole ontvang.
Van die land se 21 421 deeltydse NSSCO-kandidate is ook effens meer vakinskrywings wel gegradeer. Die druipsyfer bly egter 17% – meer as 10% hoër as die van voltydse kandidate. Dr. Namwandi het groot kommer uitgespreek oor die afname in goeie simbole deur deeltydse kandidate.
Leerlinge het beter in 17 vakke gevaar, onder meer rekeningkunde, Engels as tweede taal, sakestudies, wiskunde, ekonomie en verskeie tale. In 13 vakke, wat biologie, landbou, geskiedenis, Afrikaans en Duits asook ontwerp en tegnologie insluit, was die uitslae swakker.
Kandidate wat hul vraestelle wil laat hernasien, moet teen 3 Februarie hiervoor aansoek doen. Die NSSCO-sertifikate sal middel April beskikbaar wees en sal verkrygbaar wees by die instansie waar die kandidaat geskryf het.