24.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

18.01.2012

Gewone vlak gr. 12 se bestes


Natasha Kameeta
VANJAAR se nasionale toppresteerder in die NSSC-eksamen vir graad 12’s op gewone vlak, is Natasha Kameeta wat aan die Senior Sekondêre Skool Da Palm op Karibib gematrikuleer het.

Natasha, ’n boorling van Otjimbingwe, begin aanstaande week met haar studieloopbaan aan Unam en gaan haar lewensdroom uitleef deur medies te studeer.

Gebed, harde werk en haar bereidwilligheid om “daardie ekstra myl” te loop, het haar haar goeie punte besorg. Sy is ’n verlangse familielid van biskop Zephania Kameeta.

Moses Garab
Moses Garab van Otjiwarongo, wat graad 12 aan die Senior Sekondêre Skool Paresis voltooi het, sê hy het die raad gevolg van ’n motiveringspreker wat hulle by die skool kom toespreek het. “Die persoon het gesê mense wat suksesvol is, is mense wat geniet wat hulle doen.”

Moses is oorstelp oor sy algehele vierde plek en sê hy het nie verwag om sulke goeie punte te behaal nie. “Ek het by Unam ingeskryf vir regte en hoop my geldsake werk uit sodat ek wel kan gaan studeer.” Hy glo daarin om gefokus te wees en sy doelwitte met toewyding na te streef.

Ndahambelela (Shange) Nakale
Ndahambelela (Shange) Nakale van die Hoërskool Etosha op Tsumeb is die naasbeste vroulike presteerder die land. Sy is versot op wetenskap en gaan in ’n biomediese rigting aan die Politegnikum studeer.

“Ek hoop ek kan eendag my studies in die buiteland voortsit en as ’n spesialis in my veld na Namibië terugkeer,” het sy gesê.

Silas Iileka
Haar skoolmaat Silas Iileka se plan is om elektriese ingenieurswese by Unam te gaan studeer. “Wiskunde en Duits was my twee gunstelingvakke. Ek het altyd vooraf gesorg dat ek studeer in ’n omgewing wat gunstig vir studiewerk is. Dit is ook noodsaaklik om ’n balans tussen leer en rus te vind, sodat jy op die dag van die eksamen uitgerus is.”

Maria Ngoma
Maria Ngoma van St. Boniface Kollege is die derde beste presteerder onder die top tien-kandidate. Sy kon gister nie telefonies bereik word om uit te vind wat haar toekomsplanne is nie.

Eira Turukatu
Eira Turukatu, klasmaat van Maria, sê sy beplan om siviele ingenieurswese aan die Politegnikum te studeer. Eira, wat die vierde beste presteerder was, skryf haar goeie prestasie toe aan elke dag se skouer aan die wiel sit.

Herman Shikusho
Vyf van die toptien is van St. Boniface Kollege op Rundu. Een van hulle is Herman Shikusho, wat droogweg opmerk dat hy “die normale prosedure” gevolg het deur “die handboeke deur te lees”. Sy kop staan in die rigting van ingenieurswese in ’n elektriese of telekommunikasie-rigting.

Herman Muremi
Sy skoolmaat en naamgenoot Herman Muremi was vyfde op die lys en sê hy moet nog finaal besluit of hy vir ingenierswese of rekenaarwetenskap by Unam wil inskryf. Meer as een van sy familielede het die koerant teruggebel om seker te maak dat hulle reg gehoor het.

Leonela Gabriel
Leonela Gabriel is die vyfde van die Runduskool se toppresteerders. Die koerant kon nie met haar kontak bewerkstellig nie. V

an die verre Eenhana aan die land se noordgrens het Elifas Elisa ook die uitsoeklys gehaal.

Die seun van SSS Haimbili Haufiku se droom is om in ’n mediese rigting by Unam of die Politegnikum te studeer, hoewel hy nie seker is of die geldsake dit gaan toelaat nie.