24.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.09.2010

‘Geletterdheid is lewe se hoeksteen’

© Marianne Pretorius
Die Minister van Onderwys, dr. Abraham Iyambo, lewer ’n toespraak by die opening van die internasionale geletterdheidsdag wat onder die tema: Gehalte geletterdheid vir vennootskap, bemagtiging en verbeterde gesondheid plaasgevind het.

NAMIBIË vier nog tot volgende Woensdag internasionale gelettertheidsdag onder die tema: Gehalte geletterdheid vir vennootskap, bemagtiging en verbeterde gesondheid.

Die week se feesvieringe is formeel deur die Minister van Onderwys, dr. Abraham Iyambo geopen. Mense wat die geleentheid bygewoon het, was onder andere volwassenes en skoolverlaters, die instansies wat aan hulle opleiding bied asook afgevaardigdes uit Kuba wat ’n program vir geletterdheid bevorder.

Die program, “Yes, I can” is ontwikkel deur oudpresident Fidel Castro en is dieselfde model wat 96% van die mense in Kuba tot geletterdheid gelei het. Die program word ook in Meksiko en Kanada toegepas.

Namibië se geletterdheidsyfer is volgens die 2001-sensus 81%, maar dr. Iyambo is vol vertroue dat die land binne die volgende paar jaar die persentasie sal oortref.

Vir die akademiese jaar 2010, het 27 000 Namibiërs vir programme oor geletterdheid ingeskryf. Sedert die program ’n paar jaar gelede begin is, het reeds byna 600 000 mense geleer om te lees, te skryf en eenvoudige berekeninge te doen.

Dr. Iyambo het gedurende sy toespraak gesê dat die programme op diegene toegespits is wat voorheen nie die geleenthede gehad het nie.

“Nou is julle vry en julle het die geleenthede. Ons gee vir julle die geleenthede. Staan met julle voete stewig en sê met ’n breë bors dat julle kinders van Namibië is. Sê dit in Engels!”

Die Minister van Onderwys het klem daarop gelê dat “lewenslange leer” die slagspreuk van die program is en dat al 13 streke van die land opgewonde moet raak oor die sukses wat deur elke mens behaal is.

Hy het verder gesê dat die week ook ’n geleentheid is om ander bewus te maak van die belangrikheid van geletterdheid en dat daar ’n kans vir elkeen is om by die program betrokke te raak.

“Geletterdheid is die hoeksteen van elkeen van ons se lewens. Geletterdheid en opvoeding is ’n voorvereiste vir die ontwikkeling van persoonlike, sosiale, ekonomiese en politiese bemagtiging. Geletterdheid is ’n wapen wat ons verlos van armoede en hongersnood.

“Ons is op die pad. Ons kan hierdie berg klim, want daar is krag in kennis.”