24.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.02.2010

Nuwe onderwysers leviete voorgelees


’n Groep nuwe onderwysers in die Khomas-streek wat deur die direkteur van onderwys in die streek, mnr. Josia S. Udjombala, toegespreek is.

NUWE onderwysers in die Khomas- streek word aangegemoedig om nie bang te wees om te misluk of om daardeur ontmoedig te word nie. Om te misluk en om sukses te behaal, is deel van enige beroep, het die direkteur van onderwys in die Khomas-streek, mnr. Josia S. Udjombala, onlangs in sy verwelkomingsrede vir ’n groep nuwe onderwysers gesê.

Die doel van die byeenkoms by Laerskool Van Rhyn in Windhoek was om die onderwysers toe te spreek oor wat die Regering van onderwysers verwag aangesien ’n aansienlike belegging in hulle gemaak is. Hy het ook uitgebrei met waardevolle raad oor wat ’n goeie en doeltreffende onderwyser uitmaak.

Die direkteur het gesê die ideale rede om ’n onderwyser te word, is wanneer die mens weet dat hy oor die talent en die gawe vir onderwys beskik en dat onderrig die edele droom is om sy land as ’n onderwyser te dien. Hy het gesê dit is moontlik dit wat mense bedoel wanneer hulle na onderwys as ’n edel beroep verwys.

Hy het die groep gemaan dat terwyl hulle aan die begin van hul loopbaan is, is dit belangrik om te weet dat dit in enige beroep nie ’n rol speel hoe dit begin word nie, maar hoe die beroep voortgesit en beëindig word. Hy het gesê dat dit wat hulle vanaf die eerste dag doen, beslissend en lewensveranderend gaan wees aangesien dit ’n uitwerking sal hê op die lewens van duisende kinders.

Vanuit ’n nasionale perspektief beskou, sal dit ’n kritieke faktor wees om ’n lewendige en volhoubare toekoms vir Namibië te verseker. Mnr. Udjombale het verder gesê die belegging in onderwys neem grootliks die vorm van beurse en skenkings aan. Meeste onderwysers word deur die Regering geborg en dit sal in die toekoms voortgaan.

“Dit moet verstaan word dat enige borgskap nie die reg van individue is nie, maar ’n kontrak tussen die borg en die ontvanger waar van die ontvanger verwag word om terug te ploeg om die nasie te dien,” het hy gesê. Volgens hom is dit ’n ongelooflike uitdaging dat, wanneer die onderwysers hul werk reg doen, kinders ingeligte en produktiewe burgers sal word.

Wanneer hulle dit nie doen nie, sal dit tot die ontketening van vernietigende magte in die gemeenskap bydra. Hy het mnr. Paul Freire, ’n merkwaardige onderwyser in die afgelope 50 jaar, aangehaal wat gesê het: “Suksesvolle onderwys vereis erns en wetenskaplike, fisiese, emosionele en doeltreffende voorbereiding. Onderwysers moet as onderwysers optree en nie as vertroetelende ouers nie.”

Hy het verder gesê dat dit veral van toepassing is op onderwysers wat met sesjarige tot 14-jarige leerlinge werk. Hulle sien op na die onderwyser as die vernaamste bron van kennis en inspirasie en elke ding wat die onderwyer sê en doen, sal ’n blywende indruk op die gedagtes en emosies van die kinders laat. “Die kinders sal jul waardes en houdings absorbeer, of dit nou sleg of goed is,” het hy gesê. Oor die verskynsel van druip, het hy hom soos volg uitgelaat.

“Dit het niks te make met die feit dat jy neerval nie, maar wel met die feit dat jy bly lê.” Mnr. Udjombala het verder gesê die fokus van moderne onderwys is die kind en gevolglik word in Namibië van leerlinggesentreerde onderwys gepraat. Die implikasie hiervan is dat geen onderwyser doeltreffend kan onderrig sonder die liefde vir die kind, opregte belangstelling in hom en die begeerte om kinders te dien nie.

Hy het na twee eienskappe van ’n goeie onderwyser verwys, te wete liefdevolle geduld en vertrouenswaardigheid, wat kernkwaliteite in ’n klaskamer is. Hy het die nuwe onderwysers versoek om nie hul vertrouensposisie te misbruik nie aangesien die Staatsdienskommissie deur middel van die Ministerie van Onderwys nie sal huiwer om stappe te doen teen diegene wat hul vertrouensposisie en invloed misbruik nie.

Hy het die groep aangemoedig, maar terselfdertyd gewaarsku dat hulle in gedagte moet hou dat hulle ’n diens aan ’n ingeligte publiek lewer, ’n publiek wat veeleisend en genadeloos is wanneer dit die onderrig van hul kinders raak. Hy het gesê wanneer dit lyk asof die pad moeilik is, moet hulle hul visie, drome en leerlinge onthou en tyd neem om te ontspan, te lees, te reflekteer en met God skakel.

“Blywende krag sal julle die versekering gee dat julle uiteindelik die probleme sal oorbrug,” het hy gesê. Volgens hom sal net diegene wat daarna streef en weet hoe om die nasie te dien, in die beroep gelukkig wees.

Mense wat lui en onverantwoordelik is, hoort nie in die beroep nie aangesien hulle nooit vrede, gelukkigheid of tevredenheid sal vind nie. Mnr. Udjombala het verder gesê dat hul bande met leerlinge gerig moet wees op die fasilitering van studie en nie die ontwikkeling van sosiale verbintenisse nie.