10.04.2008
Namcol gee geld vir ou boeke
OUDSTUDENTE van Namcol wat in 2007 klaargemaak het, kan nou hul handboeke wat nog in ‘n goeie toestand is, teruggee aan Namcol en geld daarvoor kry. Alfresco Developers is ‘n maatskappy wat vaardighede ontwikkel aangesien Namibië geleerde mense nodig het om die land self te ontwikkel.
Dié maatskappy het bande met Namcol gesmee om onderwys na elke Namibiër te bring en dus het hulle die Namcol handboek-terugkoopskema begin. Hulle help ontwikkel ook die vaardighede van Namibiërs in die konstruksieveld met afstandsonderrig in loodgieterswerk, messelary en timmermanswerk.
Die handboek-terugkoopskema het drie doelstellings. Eerstens om handboeke wat in ‘n goeie toestand is en wat oudleerlinge nie meer gebruik nie, terug te koop sodat hulle 25 persent van die aankoopprys kan terugkry. Tweedens kan vanjaar se studente nou die tweedehandse handboeke teen ‘n goedkoper prys aankoop.
Derdens hoef minder bome afgekap te word om papier mee te maak. Alfresco gaan ook N$5 000 aan een Namcol-student wat boeke terugbring, skenk vir verdere studies. Die boeke moet nog in ‘n goeie toestand wees en kan in tale soos Oshikwanyama, Rukwangali, Rumanyo, Thimbukushu, Silozi, Otjiherero, Afrikaans en Engels vir graad 10 en 12 wees.
Storieboeke, soos die van Fillemon Elifas, is ook welkom. Boeke kan na enige Namcol- sentrum in Namibië geneem word. Die Namcol-onderwysers is beskikbaar vanaf 15:00 in die middae. Leerlinge word versoek om hul naam, selfoonnommer en bankbesonderhede met ‘n potlood voor in die boek te skryf en nadat Namcol die boeke ontvang het, sal die student daarvoor beloon word.
Die geld sal dan in die student se bankrekening betaal word. Studente het tot einde April om boeke terug te neem en ‘n beloning daarvoor te kry. Vir navrae kan mnr. Alfred Feris by 081 324 2618 of 081 320 9493 gekontak word.