7.02.2012 Mediese skool kry hoë lof
 V.l.n.r. is prof. Lauri Lajunen, rektor van die Universiteit van Oulo, prof. Lazarus Hangula, visekanselier van die Universiteit van Namibië (Unam), me. Anne Saloranta, saakgelastigde van die Finse ambassade, en prof. Peter N’yarango, hoof van die mediese skool van Unam, by die minibus wat deur die Universiteit van Oulu in Finland geskenk is.
VANUIT die hoogste tersiêre onderwyskringe uit Finland het ’n besondere eer die Universiteit van Namibië (Unam) te beurt geval aangesien dit as die nommer een universiteit in Afrika vir samewerking beskou word.
Die rektor van die Universiteit van Oulu in Finland, prof. Lauri Lajunen, het Vrydag tydens ’n oorhandigingseremonie net die hoogste lof aan die Mediese Skool van Unam toegeswaai.
“In Afrika is Unam die nommer een universiteit vir ons vir samewerking. Die geboue, geriewe, en moderne tegnologie van Unam se mediese skool is merkwaardig. Julle kan julself gelukkig ag met jul professore en lektore se uitstekende vaardighede en jul goeie leerplan,” het hy aan die mediese studente gesê.
Die Universiteit van Oulu het twee voertuie (’n minibus en sedanvoertuig) ter waarde van sowat N$550 000 aan die mediese skool oorhandig.
Die voertuie sal deur studente en die mediese fakulteit gebruik word om die opleidingsgeriewe in hospitale, klinieke en gesondheidsentrums in verafgeleë gebiede te besoek.
Die Finse saakgelastigde van die ambassade in Namibië, me. Anne Saloranta, het beaam dat die voertuie veral vir uitreik-aktiwiteite en opleiding bedoel is. Die visekanselier van Unam, prof. Lazarus Hangula, het beklemtoon dat die twee voertuie ’n sigbare herinnering aan die hegte vriendskap tussen Finland en Namibië is. Dit is veral gemeenskapsgegronde opleidingsprogramme wat deur die gebruik van die voertuie sal baat, het hy gesê.
Die skenking is deel van die Medunam-projek tussen die mediese skool van Unam en die Universiteit van Oulu.
“Vandag vier die twee universiteite die begin van ’n nuwe samewerkingprojek,” het prof. Olli Vainio, visedekaan van die mediese fakulteit van die Universiteit van Oulo, gesê.
Volgens hom is die fokusgebiede van die Medunam-projek medisyne en mediese onderrig in Namibië, veral omdat Namibië nie mediese dokters voor die opening van Unam se mediese skool in 2010 opgelei het nie.
“Die plaaslike opleiding van geneeshere is beslis ’n noodsaaklikheid vir Namibië. Volgens beraming bestaan ’n behoefte aan 300 mediese dokters per jaar oor die volgende dekade,” het Vainio gesê.
Volgens die hoof van die mediese skool, prof. Peter N’yarango, is sowat 800 aansoeke, selfs uit Mongolië, ontvang. “Ons goeie naam strek wyd en syd. Daar is ’n groot behoefte aan hoër onderrig, maar weens die beperkte bronne moet ons vele voornemende studente teleurstel met net sowat 100 studente wat vir die program gekeur kan word.”
Die Medunam-projek word deur die Hoër Onderwysinstellings Institusionele Samewerkinginstrument (HEI ICI), ’n ontwikkelingsamewerkingprogram van die ministerie van buitelandse sake van Finland, ondersteun. HEI ICI ondersteun gesamentlike projekte tussen hoër onderwysinstellings in Finland en ontwikkelende lande.
Die Medunam-projek streef na die opleiding van hoë gehalte dokters en deskundige opleiers in die medisyne-beroep. Dit is ’n goeie begin vir navorsing in mediese en openbare gesondheidsdissiplines, volgens Vainio.
Die projek ondersteun ook die mediese skool in die ontwikkeling van ’n volhoubare pedagogiese opleidingstelsel vir sy lektore en kliniese opleiers en wil die bou van kapasiteit van menslike hulpbronne by die mediese skool bevorder.
Die vestiging van ’n netwerk van nuwe mediese skole in Botswana, Zambië en Mosambiek, is ook hoog op die prioriteitslys van Medunam.
|