1.02.2011 Gimnasium se slimmes
WINDHOEK Gimnasium is baie trots daarop om die nommer een-kandidaat in Namibië, Lian Aldrich, op te lewer. Hy het sewe vakke in graad-12 gehad, teenoor die ander kandidate net ses vakke het en vir al sewe vakke het hy ‘n 1-gradering gekry.
Hy gaan vanjaar in die aktuariële rigting aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Me. Colette Rieckert, die besturende direkteur van Windhoek Gimnasium, het ‘n sertifikaat, “Met hoogste lof” en ‘n kontantbedrag namens die skool aan Lian oorhandig.
Daarna het Lian die res van die skool toegespreek en sy suksesresep met sy medeleerlinge gedeel. Alhoewel Lian die uitsonderlike prestasie van nommer een in die land behaal het, het van sy medematrikulante net so puik gepresteer. Chris Becker met ses 1-simbole is veertiende algeheel in die land, Tiaan Nel met vier 1-simbole is negentiende algeheel in die land en Janti Kriel met vyf 1-simbole, beklee die algehele 28ste plek. Na haar neem Paul Verburg die 31ste plek in.
As graad 12-groep het hulle ‘n algehele sesde plek in die land en ‘n tweede plek in die Khomasstreek verwerf. Die graad 10-leerlinge het nie teruggestaan nie en ‘n algehele derde plek uit 584 skole behaal en boaan die lys in die Khomasstreek geeïndig.
|