21.07.2011 Cosmos op ‘toer’
OP 1 Julie het graad 9-leerlinge van die Hoërskool Cosmos saam met ’n lid van die junior stadsraad, Hesten Soifika, wat ook ’n leerling by die skool is, by Arebbusch Lodge meer oor toerisme geleer en ook ’n stadstoer van die hoofstad geniet.
Die leerlinge het hul dag begin met ’n toer van die lodge en moes saam met die werkers rondloop en kyk watter verskillende take hulle verrig, soos byvoorbeeld kamers skoonmaak, beddegoed omruil, skottelgoed was of in die kombuis werk.
Ander is touwys gemaak in die linnekamer en strykkamer. Later het die leerlinge saam met die kombuispersoneel ’n ete voorberei en na ete het hulle met ’n bus op ’n toer deur die hoofstad gegaan waar hulle geleer het waarom verskillende dele in die stad anders lyk as ander dele en waarom sommige strate na bekende leiers vernoem is.
“Die leerlinge is baie dankbaar oor die onvergeetlike geleentheid en van hulle oorweeg nou ’n loopbaan in toerisme. ’n Spesiale dank aan Arebbusch Lodge en die junior stadsraad wat dit moontlik gemaak het,” sê Hesten Soifika.
|