Hawie Engels vat leisels by WHS

WINDHOEK Hoërskool spring die nuwe skooljaar weg met ?n nuwe skoolhoof in die persoon van mnr. Hawie Engels, ?n bekende in sake- en onderwyskringe.

Mnr. Engels kom oorspronklik van Gobabis en hy het daar in 1981aan die Hoërskool Wennie du Plessis gematrikuleer. Hy was ook die hoofseun in sy matriekjaar.

Sy naskoolse opleiding het hy aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi waar hy ?n BA-graad in onderwys en ?n honneursgraad in geografie behaal het. Tydens sy studies aan die universiteit het hy ook sy Junior Springbokkleure in die 400 meter hekkies verwerf.

Na sy terugkeer na Namibië is hy as onderwyser by Windhoek Hoërskool aangestel en hy het ook vir die destydse Suidwes-Afrika en later vir Namibië rugby gespeel. By die skool was hy betrokke by sportafrigting en is later tot departementshoof bevorder.

Hy was ook betrokke by die buitelugskool op Aus waar hy leierskapontwikkeling onder sy vlerk geneem het. In 1997 is hy na die Rock Lodge buite Okahandja waar hy by die bestuur van die Lodge en Christenseminare betrokke was. Hy het later die Opleidingsentrum vir Jeug begin.

In 2001 het hy sy studies aan die Bestuurskool van Stellenbosch voortgesit en ?n honneursgraad in Besigheidsbestuur en Administrasie verwerf. In 2001 hy ook die onderneming MaST Namibia (Management and Skills Training) gekoop.

Mnr. Engels was vir nege jaar ?n sake-opleidingskonsultant in onder meer leierskap en bestuursontwikkeling, strategiese beplanning en spanbou. Hy is getroud met Karien en het twee dogters, Cari en Liza-Mari.

Kategorie: