
Die Hoërskool Hage Geingob se Oshivambo tradisionele groep het vir vermaak gesorg tydens die loodsing van die Star School projek by dié skool.
“NAVORSING toon dat die meeste nuwe infekterings met MIV en vigs in die ouderdomsgroep van 15 tot 25 val. Liewe leerlinge, julle as die jeug van die land het die mag om hierdie virus te stop en ‘n vigsvrye nasie te word.
‘n Moderne ekonomie benodig hoogs opgeleide professionele: onderwysers, dokters, prokureurs, ingenieurs, rekenmeesters, joernaliste en al die ander beroepe wat die ekonomiese wiel aan die draai hou.” Só het me. Claudia Tjivikua, die direkteur van onderwys in die Khomas- streek, die leerlinge van die Hoërskool Hage Geingob aangemoedig tydens die loodsing van die Star School projek by die skool.
Sy het gesê die kinders moet hulself toewy aan die temalied van Star School: “Vigsvry, dis ek”. Star School, oorspronklik ‘n Suid- Afrikaanse projek, ontmoedig leerlinge om vroeg seksueel aktief te raak en wek bewustheid oor die gevare van MIV en vigs. Dit bou hul selfvertroue en spoor hulle aan om eerder hul drome na te jaag. Verder motiveer dit die jeug om die regte besluite te neem en leer hulle dat hulle die reg het om nee te sê vir seks.
Hage Geingob is die vierde lid van die Star School familie in Namibië. Die eerste drie skole wat by die projek aangesluit het, was Jan Jonker Afrikaner, waar dit gelood is, Augustineum en Eldorado. Die projek sal in die volgende vier maande by agt ander skole in die Khomas-streek naamlik A. Shipena, Cosmos, Goreangab, Acacia, Immanuel Shifidi, Groot Aub, Ella du Plessis en Highline Privaatskool ingebring word.
Die projek is in 2005 in Kwa Zulu- Natal van stapel gestuur met sowat 1 000 studente. Die doel was om 40 000 leerlinge van 40 skole te bereik en mettertyd is besluit om dit na Namibië uit te brei. Die projek gaan in 40 skole in Namibië geloods word.
Mnr. Dan Ollofsson, die stigter van Star School, het beloof om sy bes te doen om toe te sien dat leerlinge in Namibiese skole daarvan bewus gemaak word dat hulle keuses het en leer om nee te sê. Hy het die projek in samewerking van mnr. Johan Hansen, ‘n bekende Namibiese sakeman, plaaslik geloods. Die Namibiese afrigters van dié projek is Evelina Kalenga, Magreth Kambinda en Funmilayo Akpokiniovo.