24.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

13.01.2012

Benodigdhede vir skool kos ouers nie duurder as in 2010

© Marlize Rautenbach
Mnr. Josua Kambond en me. Halleluya Naudobo van Karnic Distributors besig om ’n kliënt se bestelling te verpak.
AANSTAANDE week is dit hok toe vir duisende skoolkinders in die land wanneer staats- en verskeie private skole hul deure vir die nuwe jaar heropen.

Vir baie van hulle is dit die eerste dag van hul 12 jaar op die skoolbanke, vir ander het hul laaste skoolskof aangebreek voor nuwe horisonne wink.

Die duisende sluit natuurlik blinkoog graad eentjies in wat van kop tot toon met splinternuwe skooluitrustings, blinknuwe skooltasse en ’n pennesakkie vol allerhande skryfbenodigdhede spog.
© Marlize Rautenbach
Imuua Hauuanga is een van Highlands Christian School se graad eentjies vir 2012. Haar moeder, me. Amanda Hauuanga help haar om haar nuwe skoolklere aan te pas.
Dit skud natuurlik Pa en Ma se sak met die totaal om ’n graad 1 gereed vir skool te kry. Tog sê ’n verskaffer van skoolklere en bykomstighede in Windhoek pryse was aansienlik minder wisselvallig as die geldmarkte, met pryse van skoolklere wat redelik dieselfde gebly het.

Volgens mnr. Ebrahim Patel van Boundary Wholesale in die hoofstad het die pryse die afgelope vyf jaar konstant gebly.

“Min van die skoolklere en bykomstighede se pryse het die hoogte ingeskiet, inteendeel, baie van die pryse het gedaal.”

Boundary is ’n familiesaak en is sedert 1939 by die verskaffing van skooluniforms en benodigdhede betrokke. In Namibië verskaf hulle uniforms aan skole dwarsoor die land, buiten St. George’s, Windhoek Gymnasium en die Windhoek Afrikaanse Privaatskool.
© Marlize Rautenbach
Me. Francis Japhta maak seker haar seun, Adriano, se eerste paar skoolskoene pas wat hy volgende week moet aantrek.
Natuurlik wissel die uniforms en benodigdhede van skool tot skool, maar volgens Patel sal ’n skoolrok vir ’n graad 1-meisie die ouers tot N$169 uit die sak jaag. Pryse van skoolskoene wissel hier vanaf N$159 tot N$259, met die duurste paar sokkies wat N$30 kos.

Die prys van ’n skooltas of rugsak hang volgens hom af of ’n gewone, standaard skooltas verkies word en of dit een moet wees waarop ’n bekende handelsnaam pryk.

“Die standaard skooltas kos so N$99, terwyl die een met die handelsnaam jou dubbeld en meer uit die sak kan jaag.”

Kom dit by skryfbehoeftes is vele ouers by veral staatskole verplig om hul kinders van ’n skêr, plakkers vir die juffrou tot kokipenne, vetkryte en gom te voorsien. En natuurlik ’n manuskripboek of skryfboek of twee. Die goeie nuus is dat dit vir die hele jaar se skryf, lek en plak is.

Shannon Campbell, verkoopbestuurder van Karnic, die verspreiders van veral skryfbehoeftes, vertel dat hulle veral die tweede week in Januarie baie bedrywig is.

“Ons is gewoonlik die hele Januarie besig, maar dit neem toe so in die tweede week met ouers wat tot na die vakansie wag om hul kinders se lyste skryfbehoeftes te kom koop.”

Ouers wie se geldsake maar knyp na ’n vakansie, kom klop eers ná betaaldag, so teen die einde van die maand en die begin van Februarie, aan vir hul aankope.

Volgens Shannon van Karnic wissel die pryse van skryfbehoeftes.

“Dit is nie ’n konstante prys nie, maar tog het die pryse van boeke konstant gebly. Ek sou sê dat nie te veel veranderinge in die algemeen voorgekom het nie.”

Haar firma verskaf skryfbehoeftes aan die meeste staat- en private skole in Windhoek, met van ouers tot onderwysers wat hul lyste van benodigdhede hier kan kom afgee. “Ons kry alles bymekaar en maak dit op in ’n pakkie wat dan net weer hier afgehaal kan word.”

Om ’n seun in Primêre Skool Eros uit te rus met skoolklere en skryfbehoeftes, het ’n ma N$600 gekos, terwyl sy skoolfonds N$1 550 per jaar beloop.

’n Splinternuwe graad 1 van Primêre Skool Pionierspark se ouers het daarenteen N$852 betaal vir hul dogter se twee skoolrokkies, skooltas, sokkies, baadjie en haarbenodigdhede. Dit sluit geen wintersklere in nie, met sowat N$1 000 wat nog begroot moet word vir twee sweetpakke, terwyl die sportklere ook nog kort. Skoolfonds beloop N$1 660 vir die jaar.

Dié werkende mamma moet haar beursie verder skud om naskoolse sorg te betaal wat haar ’n verdere N$860 per maand kos.

Private skole in die hoofstad se pryse is aansienlik hoër, met maandelikse klasgelde wat wissel van N$1 450 tot N$1 750. Uitgawes vir byvoorbeeld ’n skooluniform, sweetpak en sportklere kan tot N$2 000 beloop, terwyl nasorgklasse en ’n daaglikse bord gekookte middagete ’n verdere N$800 ekstra per maand kos.

In die suide van die land hoef goeie onderrig ouers nie ’n boel geld te kos nie. By Primêre Skool Keetmanshoop sal dit ouers net N$400 kos om hul graad 1-kind skool toe te stuur. Die prys sluit ook skryfbehoeftes in. Die skoolgeld is N$100 per trimester en die skool vra die ouers ʼn eenmalige bedrag van N$100 wat die skool gebruik om skryfbehoeftes op grootmaat aan te koop.

Die skooluniform vir seuns vir somer en winter en die winteruniform vir meisies is by Pep Stores beskikbaar. Die handelsnaam “No Name” se pryse begin by N$39,95. Die somersdrag vir meisies is by Hektas Fashion op Keetmanshoop en Boundary Wholesale in Windhoek beskikbaar. Pryse wissel van N$165 tot N$255.

Aan die kus beloop die Walvisbaaise Privaatskool se skoolgeld N$1 100 per maand. Om ’n graad 1-meisie hierheen te stuur, het ma N$1 950 uit die sak gejaag vir skoolklere wat twee langbroeke, twee rompe, een trui, sweetpak en skoolskoene insluit.

Op die vakansiedorp Swakopmund het ’n ma ongeveer N$600 betaal vir ’n stel skoolklere, boeksak, skoene en skryfgoed.

In die Noorde moet ouers van ’n privaatskool op Oshakati maandeliks skoolgeld van N$1 500 betaal. Uitrustings vir nuwe leerlinge kan direk by die skool gekoop word en beloop sowat N$700. Buiten die skoolfonds moet ouers ook vir die eerste maand ’n deposito van N$1 500 betaal, terwyl skryfbehoeftes ongeveer N$250 kos.