22.07.2008 Weet nie meer wat om te doen
'n Tyd gelede is ek soort van oor die vingers getik as gevolg van die aaname dat ek nie my plig as diereliefhebber nagekom het teenoor Lockestraat se Jack Russel nie. Daar was 'n mening dat ek minder in die koerant moet kla en eerder iets daadwerkliks moet doen. Dis weer dieselfde huis, dieselfde probleem, maar met nuwe huurders en 'n nuwe hondjie.
Ek het, soos vermaan, weer eens die regte prosedure gevolg net om seker te maak dat die aaname oor my pligsversuim wel verkeerd was. Resultaat. Nadat die twee “inspekteurs” by die ingang van die erf 'n geselsie met die huishulp gevoer het, het hulle vertrek. Finito, inspeksie is klaar, niks te rapporteer, foutiewe adres, geen hond op erf.
Hierdie is my aaname, reg of verkeerd, want kwalik 20 minute later het die ellende van die onsigbare brakkie weer begin. Daardie aand toe die baas by die huis kom, moes die brakkie dit nou eers ontgeld, tot 22:30, ek neem aan dit was om die “onbekende” klaer die futiliteit van kla te demonstreer. Ek onthou toe weer eens die vinger tik en verkeerde aaname en ek bel toe weer.
Die dame aan diens het net een storie, sy moet opsluit die naam en adres van die klaer weet. Ek probeer beduie dat ek nie iemand wil aankla nie, ek wil bloot die brakkie uit die 20 liter plastiek emmer/ gat in die grond/buitekamer/voëlkou of van die draad/tou laat verwyder sonder dat sy baas hom weer straf omdat iemand omgee.
My vermoede omtrent die aanhouplek/- wyse is gebaseer op die feit dat ek in twee maande nog nie die hondjie of 'n spoor van die hond iewers kon gewaar nie, moet byvoeg ek kan slegs 90 % van die erf sien. Probeer toe 'n paar dae later weer bel, selfde storie. Ek wil net rapporteer, voordat nog 'n verkeerde aaname gemaak word, dat ek poog om die eienaar/ verhuurder op te spoor, nie net oor die samedromming van taxi`s, maar ook om 'n versoek te rig ten opsigte van honde of ander tipes slaggoed wat aangehou mog word vir eie gebruik.
Ek wil darem ook byvoeg, ek gee toe dat my aaname omtrent die hond verkeerd mag wees, dalk is daar tog wel 'n spesie onsigbare hondjie wat aaneen histeries tjankblaf vir ses tot nege ure per dag bloot omdat hulle tevrede is. Ek kan saamleef met die gekerm as my vermoede verkeerd bewys kan word en dat dit maar bloot normale gedrag vir die spesifieke hondjie is.
Voordat die verwagte voorstel van "Hoekom gaan praat jy nie met die huurder nie" as oplossing aangebied word deur 'n welmenende, wil ek u net wys daarop dat my vorige poging in n ander geval, my erge grimmigheid op die hals gehaal het as gevolg van nog 'n verkeerde aanname dat ek doelbewus myself skuldig maak aan “discrimination, no regard for other cultures, racism etc.” Hoe nou, wat nou.?
|