12.03.2010 Verlange na die Namib
Gedig deur Louis v.d. Westhuizen, ’n oudonderwyser van Namibië en hy verlang uit die Kaap na sy geboorteland.
UIS SE KONTREI
Ek sing van ’n plek in die Namib-woestyn
Waar die kwarteltjies roep: “Kelkiewyn, kelkiewyn”
O, die lewe is ’n lied hier in Uis se kontrei
Aag man, as jy hier is, wil jy net hier bly.
Hier in die maag van die Uchab se sand
Kom drink ek, kom wei die woestynolifant
In die berge se vou woon die Brandberg se vrou
’n oerou geheim net aan haar toevertrou.
Die windlose vlaktes is springbok se land
Teen die dofblou lug troon die Brandberg se rand
Verloor jy hou hart hier, dan sal jy jou vind
En word jy vir ewig die Namib se kind
Soek jy na rus vir jou siel en jou gees?
Die Namib-woestyn sal jou siekte genees
Daar’s geen beter plek om jou siel te kom prys
As die Uchabrivier se woestynparadys.
Die son gaan saans slaap teen die weste se kus
Die Namib is moeg van die heeldag se rus
Die dorpie se mense aan die mynhoop se kant
Gaan slaap met die hoenders in Welwitschia-land.
Dis hier waar die son die stad uit jou brand
En die ooswind jou sorge wegwaai
Waar die duine, gesteentes, toermalyn en agaat
Die ou Namib se taal met jou praat.
|