25.07.2008 Unies moet sokkies optrek
'n Ope brief aan die unies en Ministerie van Onderwys EK wil mnr. Paul Sauerwein bedank vir sy uitsprake in die koerant namens die Onderwysunie (Nantu). Dit is egter vir my ’n kwessie van te min, te laat.
Wat hy gesê het, het sy plek, om, volgens mnr. Sauerwein, die Regering te versoek om maatreëls in te stel om onderwysers se situasie te verlig, maar as daar elke keer vir ten minste tien jaar lank moet baklei word om 'n verhoging te kry wat al vyf jaar te laat is, dan het ek geen hoop om binne die afsienbare tyd enigsins ’n verligting in die onderwyssituasie te sien nie. Ek stem egter 100% met hom saam dat:
• die staatsdiens verminder moet word met alle staatsamptenare wat slegs ’n verdubbeling van posisies meebring;
• onderwysers se 13de tjek belastingvry moet wees; en
• onderwysers se salarisse inflasieverwant aangepas moet word. Hierdie versoeke is egter vir te lank reeds opsy geskuif om kans te gee aan ander “meer belangrike” projekte. Wanneer iemand net lank genoeg en hard genoeg praat en die gevoel van die massas laat hoor, kry hy of sy ’n pos in die Regering en is dan tjoepstil en dood tevrede. So word net al hoe minder aandag aan die absolute onbenydenswaardige posisie waarin die onderwyser hom bevind, gegee.
Die onderwyskorps is vinnig besig om sy beste en vaardigste kundiges te verloor. En hierdie keer is die sondaar nie die private sektor soos in die 90’s nie, maar ander skole. Nuwe skole. Private skole. Die beste onderwysers word gelok met salarisse wat tot drie keer meer is as hul huidige inkomste. Ongelukkig baat slegs n handjievol kinders by die insette van die afgerokkelde kundiges.
Die meerderheid kinders word blootgestel aan onervare aspirantonderwysers wat nie geleerd is of blootgestel is aan die realiteit van onderwys nie. Alreeds beperkte bronne en oorwerkte skoolhoofde kan beswaarlik aangewend word om hierdie nuwe onderwyser indiensopleiding te gee en nog ’n groep voornemende graad 12’s word ontneem van goeie uitslae en ’n moontlike toekoms in ons brongestremde Namibia.
Bo en behalwe die hoë salarisse en lae leerlingtalle wat onderwysers trek na private instansies, is daar ook nog die afgedwonge 40 uur per week werk wat elke onderwyser verplig om elke dag, na skool, ekstra twee ure fisies skooladministrasie te behartig.
Daarom sê ek dat dit hoog tyd is dat die patetiese salarisse van die onderwysers drasties moet verhoog word en nie net om die lewenskoste die hoof te kan bied nie, maar ook om die kundiges te behou sodat die meerderheid kinders en heel moontlik almal baat kan vind by hul jarelange ondervinding en ervaring. Ek skaam my vir die salarisse wat ons aangebied word in vergelyking met ons eweknieë in SA.
Ek skaam my vir die blatante manier waarop onderwys as tweedeklas beroep en selfs deur die Regering hanteer word. Waardetoevoeging begin met beter en mededingende salarisse. Intussen is die unies doodstil oor onderwyssalarisse en word dit nêrens op hoër vlak aangespreek nie.
Die unies beding vir afslag op sekere dienste en produkte, maar ek vra wat maak ek met 20% afslag op motorbande as ek nie eens die brandstof kan bekostig nie. Ten slotte my kollega, wil ek net byvoeg dat in hierdie stryd ons nie magteloos is nie. As die unies nie nou opstaan en onmiddellike verandering versoek namens sy lede nie, dan moet die lede opstaan en hul maandelikse bydrae aan TUN en Nantu stop.
Grondwetlik het ons die reg om dit te doen en dan op ons eie die staat aan te pak deur direk met die belanghebbende instansies te onderhandel. En die unies moenie dit beskou as ’n ydele dreigement nie, maar liewer ’n belofte wat dalk net die spreekwoordelike vonk in ’n kruitvat is. Die stryd duur voort.
(Brief verkort - Red. Republikein)
|