22.05.2006 Teenvoeter vir Mariental-vloede
Prof. dr. Erich Förtsch van Swakopmund skryf:
HOE ver het ons gevorder dat as gevolg van angs vir 'n moontlike oorstroming van Mariental 88 miljoen meter water (inhoud van die Naute-dam) uit die Hardap-dam gelaat word see toe omdat swaar reënbuie verwag word en die mense van Mariental gatvol vir nog 'n oorstroming is? Ek hoop net dat hierdie 88 miljoen m3 water nie aan die einde van die reënseisoen gemis word nie.
Dit verg 'n geweldige hoeveelheid verwaandheid en onvermoë om Mariental in die bestek van ses jaar drie keer te oorstroom. Elke keer beweer Namwater dat hulle onskuldig is. Darenteen spreek die feite 'n ander taal en wys dat die staatseie waterverskaffer gefaal het. Nooit was was dit "flood management," eerder "panic management."
Ses jaar gelede is die sluise ten minste 12 uur te laat geopen en daarna verloop die kurwes vir die invloei en uitvloei ewewydig maar met 'n tydsvertraging van 12 tot 15 uur. Aangesien die rivier nie skoongemaak was nie, moes Mariental en sy inwoners asook die Hardap-boere die spit afbyt - nieteenstaande die miljoene dollar se skade het die verantwoordelikes niks onderneem om die Visrivier skoon te maak nie. Inteendeel, die vermoë om water uit die sluise vinnig af te voer, het in die laaste ses jaar verder afgeneem. En hierdie keer verloop die kurwes weer ewewydig soos ses jaar gelede met 'n tydsvertraging van ±4 tot 12 uur. Van toename in ervaring geen spoor nie.
Dit is nou verbasend hoeveel mense skielik 'n bydrae meen te maak - ook ministers - en die wiel wil herontdek. Intussen is hierdie aanvoorwerk presies 15 jaar gelede deur die ingenieur Erich Selck in opdrag van die destydse stadsraad van Mariental gedoen. Die belangrikste bevindinge uit sy verslag is:
- Die slik, riet en prosopis moet uit die rivierbed verwyder word en die diepte van die oorspronklike rivierbed moet herstel word;
- sekere dele van die rivierbed moet van 'n betonblad voorsien word om die groei van die riete te verhinder en die watervloei glad te laat verloop; en
- die bou van terughou-sluise by die invloei van die klein riviertjie Aub wat tussen die damwal en Mariental vanuit die ooste in die Visrivier vloei.
As hierdie bevindinge korrek uitgevoer word, behoort die Visrivier 'n vloei van tussen 1 800 en 2 000 m3/sek te kan hanteer sonder om oor sy walle te stoot. Dit beteken dat as die sluise vir 65 uur teen 1 800m3/sek - dit is gelyk aan die tyd van die laaste vloed - geopen word en 'n hoeveelheid van 421,1miljoen kubieke meter water die dam kan verlaat sonder om Mariental te oorstroom!! - meer nog as 'n mens in ag neem dat die Hardapdam volgens Namwater in die jaar 2000 sy kritiese grens by 130% vulling bereik en ons hierdie waarde afbring na 115% en ons verder met 'n vulling van 90% begin (in teenstelling met 85,4% op die oggend van 24-02-06) sou 'n verdere 73,6 miljoen kubieke meter die dam kan binnevloei. Dus altesaam 494,8 miljoen.
By hierdie soort berekeninge moet egter altyd die vloedpiek in ag geneem word. By 90% as vertrekpunt sou die dam op die piek van die vloed 112,88% vol gewees het. Selfs al was die dam 100% vol as vertrekpunt, sou die vloedpiek in vulling van 122,88% veroorsaak het. As die opening van die sluise egter onmiddellik na die waarskuwing wat uit Nomtsas op 24-02-06 om 07:00 ontvang is, geopen was, sou die maksimale vulling net 116,28% verloop het!
Vir die persoon in beheer van die sluise op Hardap is dit belangrik om te weet hoe hoog vloei die Visrivier by Nomtsas, Schlip, Kub en by die monding van die Packriem in die Vis. Op grond van hierdie metings weet hy hoeveel water binne die volgende sê 5 tot 40 uur die dam sal binnevloei. Daarvolgens sal hy die sluise dienooreekomstig vroegtydig open en hoef nie te wag op 'n komitee in Windhoek se beslissing nie.
Hierdie komitee saam met sy voorsitter kan ontslaan word, want hulle het binne ses jaar Mariental drie keer laat oorstroom. Al die huidige geskarrel is rookskerms om die skuldige gewete en die publiek te sus. So terloops vir die vele deskundiges: dit is nie soseer die hoeveelheid reën nie, maar die intensiteit wat belangrik vir die afloop is. Dit weet ons al vir jare uit die Khomas Hochland, waar sagte reën die weiding laat groei, maar die boere het skaars water in hul damme.
Indien die betonblaaie in dele van die rivierbed te duur blyk te wees, moet die rivierbed elke jaar voor die begin van die reënseisoen skoon geskraap word, andersins sal Mariental weer oorstroom word. Op die keper beskou, grens die nie-skoonmaak van die rivier aan strafbare nalatigheid.
Die dam kan naby 100% van sy inhou- vermoë gehou word indien die rivier by opening van die sluise met 1 800m3/sek die watermassa kan afvoer sonder om oor sy walle te stoot. Die belangrikste taak is nie die pratery in komitees, maar aan die werk spring om die rivier skoon te maak! Verder moet die monitering van die afloop uit die opvanggebied werk, sodat die sluis-operateur onmiddellik kan reageer om die dam as buffer te kan gebruik. Dit het die mense van Mariental gehoop toe Hardap-dam voltooi is. Helaas, hulle het nie nie met die ou Waterwese en die huidige Namwater rekening gehoou nie.
(As gevolg van 'n paar tikfoute wat met die vorige plasing van hierdie brief ingesluip het, word die korrekte weergawe vandag geplaas. Red. - Republikein)
|