24.07.2008

Sy is nou veilig en geborge


LIEWE familie, vriende en elkeen wat vir Jessica omgegee het. Jessica het deel van menige huishoudings geword en daarom is haar heengaan na drie jaar van in en uit die hospitaal, vir ons almal 'n skok. Sy was 'n inspirasie vir baie mense, groot en klein. Met haar vrolike en positiewe lewensuitkyk het haar liggie vir Jesus geskyn.

Al was sy soms hoe siek, het sy almal om haar aangemoedig om te bid en niemand mag iets van haar Jesus gesê het nie. Geen wonder dat Jesus self twee weke voor haar dood persoonlik in 'n visioen aan haar verskyn en met haar kom praat het nie. Sy het 'n groot groen boom gesien – op elke tak se punt was 'n engeltjie met pienk vlerkies.

Jesus het vir haar gevra hoe sy oor haar siekte voel. Sy het geantwoord dat sy moeg is daarvoor. Hy het aan haar belowe om haar gesond te maak en verdwyn. Dieselfde belofte van genesing vir Jessica het ek en baie ander ook gekry op ander maniere en daarom het ons vas geglo dat haar aardse liggaampie sou genees, selfs toe daar geen hoop meer was nie.

Ons het verslae gestaan toe sy op 5 Julie om 18:00 haar laaste asempie uitgeblaas het. Wat moet ons nou glo? Die enigste is om God te vertrou. Hy is God en maak nie foute nie. As dinge nie uitwerk soos ons geglo het nie, dan het ons verkeerd verstaan of aards gedink, maar God is God en ons mag Hom nie bevraagteken nie.

Ons het nie nou die antwoorde nie, wat ons wel weet, is dat ons treur nie soos mense wat geen hoop het nie, want ons weet sy is by God. Waar sy gister op 23 Julie haar 7de verjaardag op die aarde sou vier, was dit haar eerste verjaardag tussen die engele. Sy het gister gedans met 'n gesonde liggaampie in die strate van goud. In die week voor haar dood, het sy vir haar ma Sonja 'n tekening gebring waar sy siek op die bed lê met 'n kaal koppie – alles in swart en verduidelik dat dit is hoe sy nou lyk.

Op die agterkant van die blad het sy haarself met hare en pienk vlerkies geteken tussen die wolke en die voëltjies, ver onder was groen gras – 'n baie kleurvolle prent en sy het verduidelik dat dit is hoe sy gaan lyk. Sy het dus geweet wat ons nie geweet het nie en met 'n prentjie dit aan haar ma kom sê! Jessica kon baie mooi teken.

Ek haal trooswoorde aan van Dawie en Thea van Rensburg en wens ek kon baie ander ook aanhaal: Prediker 8:8 sê vir ons: “Niemand het die mag om die wind te stuit nie; niemand het seggenskap oor sy sterfdag nie.” Vir baie lank sal haar sêgoed julle bybly en dis kosbaar. Koester elke herinneringe. Ons aardse woning is maar net ’n tent wat afgebreek word.

Maar soos julle tereg sê, sy het ’n pragtige nuwe liggaampie daar waar sy by ons Vader is. ’n Liggaampie wat nooit weer deur siekte en pyn afgebreek kan word nie. Jessica het al die voorreg om te wees daar waar ek en jy nog moet kom. God is die ewige skuilplek, en dis vir ons elkeen ’n troos om te weet dat ons aan Hom behoort. Hy het nêrens belowe dat ons nooit sal hartseer ervaar nie, maar Hy het belowe om saam met ons te wees. Dalk nie vandag nie, maar eendag sal julle terugkyk en die een ry spore sien.

En julle sal weet dat Hy julle deur al die seer gedra het. Ons gun Jessica die hemel en 'n verjaarsdag tussen engele – sy verdien dit. Baie seên en dankies aan elkeen wat ons familie in gebede toegevou het die afgelope jare. Die Jessica-trust sal voortgaan om kankerlyertjies van Namibië wat in die buiteland behandel moet word, by te staan met noodsaaklike en addisionele uitgawes. Mense wat geroepe voel om bydraes te maak, kan die webtuiste www. friendsofjessica.com besoek vir besonderhede. Baie liefde en groete.