22.07.2008
Sulke optrede soms nodig
EK verwys na die artikel oor die agent wat huis sluit oor agterstallige huur, Donderdag 10 Julie. Ek is self ’n eiendomsbelegger met ’n paar eiendomme. Ek wil net die agent gelukwens met die optrede. Ek moes daardie stap ook al twee keer neem met van my eiendomme. Die huurders besef nie die implikasies wat agterstallige huur behels nie.
Eerstens kry jy `n swak naam by die bank, want jou paaiement kan nie ten volle betaal word nie. Dan moet jy elke dag bel en vra na jou huurgeld met soveel leë beloftes. Dit raak later twee, drie of selfs meer maande. Op die ou end trek die huurder net uit en jy moet begin geld invorder. Nou is jy as eienaar so ver agter by die bank dat hulle jou plek wil afvat.
Die onus berus nou by jou as eienaar om geld te leen of reelings te tref om die verhuurder se agterstallige huur te betaal. Wanneer jy na die prokureurs gaan, kos dit maklik die helfte net aan regsonkoste om dit in te samel. Almal weet dat hierdie weer ’n gesloer is deur ons regstelsel en wat net geld kos. Op die einde skryf jy in elk geval die helfte af vir die stap.
So wat bly oor? Reg in eie hande! Mnr Balt, volgens my het jy reg opgetree. Daar is natuurlik meer sulke drastiese stappe wat gevolg kan word en wat ook werk. Ons kan saam sit en gedagtes ruil. Dit is ook so dat ons almal in ’n stadium swaar kry en moet knyp waar jy kan. Dan moet jy asb net bel en reëlings tref. Kom ook dit dan net na.
Ek dink dis tyd dat die howe en prokureurs ook na kleiner sake teen laer onkosts kyk om hierdie tipe euwel (algemene klein skuld) hok te slaan. Mense maak te maklik skuld en kom daarmee weg, want hulle weet wat die koste is om dit te laat insamel. Soos tereg gese, almal kry altyd die skuldige party jammer en dink dan hy is reg. Ek hoop hierdie was ’n goeie voorbeeld vir huurders wat dink hulle kan kanse vat.