21.02.2012
Gee hom ’n stywe enetjie
Jeanne de Villiers van Swakop skryf:
NA aanleiding van ’n bekende whiskey-advertensie op TV deel ek graag my (ware) verhaal met julle:
Wit Willem is ’n agtermekaar man, amper ’n perfeksionis. Blikkieskos in die kas staan volgens soort in rye, en briewe wat hy met een vinger tik teen ’n indrukwekkende spoed, het leestekens in presies waar dit moet, volgens die taalreëls wat ou juffrou Gous hom so ingedril het daar in die laat sestigs. Een aspek in Willem se geordende lewe wat egter alle ander van sy ou maniertjies oorskadu, is sy ding met sleutels.
Hy roem graag daarop dat hy nog nooit ’n sleutel verloor het nie, nie van ’n kar, huis of kluis nie. En dit wil mos gedoen wees? Hy is ook van mening dat dit baie maklik is; hang eenvoudig die sleutel op sy plek op, dan sal dit nooit wegraak nie.
Tot op ’n dag, of dalk ook nie heeltemal nie, want tegnies was die sleutel nie regtig weg nie, net effe buite bereik. Die môre vroeg is die tuinhulp daar en Willem sleep by die agterdeur uit om die motorhuis te gaan oopsluit, sodat Andries sy hark, graaf en “poop scoop” kan kry.
So in die verbygaan pluk hy sommer gister se baadjie aan, want die betrokke oggend lyk die weer maar net so triestig as wat Swakopmund-weer kan lyk en dit is nat en koud.
Nadat hy vir Andries mooi beduie het wat alles deur die loop van die dag gedoen moet word, kies hy koers terug huis toe. Met die inloop druk hy die sleutels in sy baadjiesak en sit die ketel aan vir tee.
’n Uur of wat later is Willem gereed vir die dag se afsprake, tee is gedrink, bed opgemaak en vuil klere in die mandjie agter die badkamer se deur. Hy merk egter nie dat die sleutels op die bedkassie lê en nie aan die haak op hul plek gebêre is nie.
Namiddag is hy terug, en toe tref dit hom, die bos sleutels is nog steeds daar op die bedkas waar hy dit vergeet het toe die baadjie in die mandjie gegooi is. O wee, wat nou gemaak? Mamma werk op die buurdorp en sal eers vanaand tuis wees.
Onse Willem is egter ’n man van vele deugde, en vindingryk breek hy in by die skuifdeur op die stoep, want dit is net deur die braaikamer, dan is jy in die huis. Ongelukkig kniehalter sy vele deugde hom hier, want die braaikamer se veiligheidsdeur is geslot en gegrendel van die huis se kant af. Juis om veiligheidsredes net ingeval iemand inbreek, soos byvoorbeeld nou! Gedwee moet hy maar omdraai en die inbraak ongedaan maak.
Die honde kyk met vraagtekens op hul voorkoppies na hul baas, min gepla, want hulle kan deur die veiligheidsdeur heen en weer, maar vir wat sukkel hulle pa dan vandag so om in te kom? Oubaas doen die vreemdste goed en hy vra “Bring vir pa die sleutels!” maar niks gebeur nie.
“Benji, ek praat nie weer nie, bring die sleutel!’ Ag genade, wat help dit tog, ’n ongeletterde hond doen nie “tricks” nie! Soos daai hond in die Toyota-advertensie. Sy naam is seker iets soos Tanneman. Hy sê mos altoos: “I don’t do tricks!”
Dit is toe net daar wat die volgende plan vorm in sy agterkop aanneem.
Hy spring in die bakkie, ry in die straat af tot by sy pêl Martin se huis. “Martin, kan ek gou ’n visstok by jou leen?” vra hy uitasem. Martin, ewe verdwaas, antwoord hom: “Um, ja seker. Gaan jy visvang?” (Vol verwagting, want hy wil seker saam gaan!) So in die draf bakkie toe, antwoord Willem “Nee my ou maat, ek wil my huis oopsluit!” en voor Martin die verwarde uitdrukking op sy bakkies in ’n dom vraag kan omsit, is Willem daar weg, visstok en al.
Martin gaan staan hande op die heupe in die middel van die pad, en kyk Willem se bakkie agterna, sprakeloos, dis net sy onderlip wat so nou en dan nog ’n woord probeer vorm.
Terug by die huis loop Willem soos ’n vasberade visterman met die visstok om die huis na die hoofslaapkamer, maak die kamer se buitedeur oop en kyk vier blye hondegesiggies vas in die oë. “Ons het weer vir Oubaas gekry!” spel hul oë woordeloos uit, wyl stompstertjies soos vliegtuig “propeller”- tjies uit die Tweede Wêreldoorlog kwispel. “Wag nou kindertjies! Pa is besig!” Paniekerig is eerder die woord, maar ek sal dit maar nie hardop sê nie, veral nie voor Willem nie!
Hy lê behendig aan met die visstok deur die veiligheidsdeur. Dit neem ’n hele paar probeerslae, net soos in die TV-advertensie, maar hy laat sak weer en weer die hoek en eindelik haak hy die veiligheidsdeur se sleutels van sy bedkassie af.
Natgesweet, diep verlig en baie, baie dankbaar, gaan sit hy net daar en dan op sy blaker in die tuinpaadjie, sug behaaglik, en sê sommer so hardop vir homself, “Give this man a whiskey!”