31.08.2010 Skrap die woord sekulêr
Deeply Thankful writes:
Geagte Redakteur:
Die kerke en by name die CCN het darem te maklik die handdoek ingegooi. Heeltemal tereg het hulle gepleit dat sekulêre onderwys in ons skole vervang moet word met ‘n morele eie (lees Christelik tradisionele) benadering.
Al wat nodig was vir hulle om dadelik tjoepstil te raak, was ‘n vermaning van ’n regeringsamptenaar dat ’n sekulêre staatsfilosofie in Namibië se grondwet ingeskryf is en dat hulle nie durf waag om te vra vir die verandering van die Grondwet nie, want dit kan nie gedoen word nie. Niks is verder van die waarheid nie.
“Sekulêr” kan uit ons grondwet verwyder word as die kiesers (onder aansporing van die kerke – en ons sluit geen gelowe uit nie) net vra dat dit gedoen moet word.
Daarom is ek so bly dat Eunice Ann van Zyl, op haar kenmerkende styl, weer die aangeleentheid aangeroer het, onder Sê jou sê, in Republikein van 12 Augustus 2010. Kerkleiers en ander, geliewe kennis te neem van die duidelike definisie wat Eunice gee, naamlik “The dictionary describes the word secular as: ‘Not concerned with religious or spiritual matters‘” Ironies genoeg, na aanleiding van al die moorde en verkragtings, het die Minister van Justisie en sekretaris- generaal van Swapo onlangs gesê (NBC TV News, 29 July 2010) dat, “…during our times we feared God: people must go back to their Christian norms”.
Watter blye dag sal dit nie wees as Swapo en die kerke kan saamstaan om die begrip “sekulêr” uit ons Grondwet geskrap te kry nie. Dan kan ons almal saam weer begin bou aan die morele opvoeding van Namibië se mense en veral ons kinders.
|