1.02.2012 Rugby kan en moet herleef
Danie Botes van Bloemfontein skryf:
MET verwysing na die sportberig – Waarheen nou met Namibiese rugby, die volgende.
Waar ’n wil is, is ’n weg! Indien iemand nie daadwerklik opstaan en rugby in Namibia wil red van ondergang nie, gaan rugby verdwyn as kompeterende sport. Daar is genoeg oudspelers wat hulle talente kan terugploeg in die sport en om te stry oor geld gaan niks oplewer nie.
Moenie terugstaan vir probleme nie en soek die regte persone om deel te wees van die hele struktuur van rugby. Kry beamptes wat wil betrokke wees en nie beamptes wat vir die aansien daar is nie. Dit gaan harde werk verg om rugby in Namibia op ’n gesonde vlak te kry, maar ek laat my nie vertel julle kan dit nie regkry nie.
Komaan, julle was nog altyd bekend as ’n land waarmee rekening gehou moes word in rugby! Staan op en red wat te redde is en maak julleself weer trots op julle nasionale rugbyspan! Borge ondersteun sportspanne waar gesonde reëls en regulasies heers en die spelers kyk op na beamptes wat eerlik en hardwerkend is.
Ons sien uit na die herlewing van Namibia se rugby!
|