6.02.2012 Onregverdige behandeling
Anoniem skryf:
ONS staan aan die begin van 2012 en ek wil graag die volgende vra. Ek praat spesifiek met sekere staatsamptenare van die “Ministry of Education, Regional Office”, Hardapstreek. As die skoen jou pas, trek dit aan asseblief!
Weet julle dat julle besig is om met mense (onderwysers) se toekoms te mors? Weet julle dat daardie mense (onderwysers) sekere finansiële verpligtinge, soos kos vir hul families, huishuurverpligtinge, mediese koste, motorpaaimente ens. het wat hulle stiptelik elke maand moet nakom?
Waarom weerhou julle deur laksheid, salarisse van hierdie mense? Hulle moet weke en weke wag voordat hulle hul salarisse wat hulle wettig toekom en waarvoor hulle hard gewerk het, uit julle kan kry. Dit is nie geld wat ons van julle bedel nie en dit is ook nie “loan”-geld waarvoor jy soms noodgedwonge moet wag nie.
Lig julle basse en doen jul werk waarvoor julle elke maand ’n salaris ontvang! Vra jouself die vraag af: Sal jy, Mnr. Mev. of Mej. X tevrede wees as jy meer as ’n maand vir jou salaris moet wag?
Ons as onderwysers is op jul pligsgetrouheid en pligsbesef aangewese, want julle is die mense wat met ons “files” en dokumente werk, al is sommige van ons net ’n nommer by julle.
As jy saans jou kop gaan neerlę, doen dit met ’n rein gewete sodat jy vir jouself kan sę: Ek het vandag my salaris deur harde werk verdien en ek kan rustig slaap.
Gee vir ons die diens wat ons toekom en laat ons resultate sien, want dit is wat die Minister van Onderwys, die agbare dr. Abraham Iyambo van ons as onderwysers verwag.
|