31.08.2010 Korrupsie vra optrede
Ingo Klitzke skryf:
MY naam is Ingo Klitzke en ek is al die afgelope 62 jaar woonagtig op Keetmanshoop. Wat tans op Keetmanshoop gebeur in ons munisipale raad is net eenvoudig te goed om waar te wees. Vir ’n tweede keer word die stomme mnr. Fleermuys (stadsklerk) ontslaan weens beweerde wangedrag en swak werksprestasie.
Ek wil net beklemtoon dat Keetmanshoop op die oomblik sukkel om geld bymekaar te maak as gevolg van korrupte amptenare wat aangestel was en wat op groot skaal na bewering geld van die munispale raad gesteel het.
Nou probeer mnr Fleermuys weer geld bymekaar maak en as gevolg hiervan kan baie beplande projekte nie van stappel gestuur word nie. Klagtes van swak werksprestasie moet liewer voor die deur van die raad gelê word wat in die eerste plek die korrupte amptenare aangestel het.
Nou is daar al ’n bakleiery oor iemand wat aangestel word en wat moontlik goeie werk sou kon lewer, maar het rassisme binne die raad tot gevolg dat hierdie aanstelling nie plaasgevind het nie. Ek dink dit is ’n skande en behoort hierdie Raadslede nie op die raad van Keetmanshoop te dien nie.
Hulle politieke partye behoort hulle te skors vir wangedrag. Dit het tyd geraak dat die Minister van Streek, Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling ingryp en ’n besoek aan Keetmanshoop aflê om orde te herstel.
Van die raadslede is skuldig aan misdrywe, maar daar word nie teen hulle opgetree nie. Jy kan deesdae moor, roof, verkrag, bedrog pleeg en met dwelms smokkel. Jy kry maklik borg, gratis regshulp en voorkeur- behandeling.
Maar o wee, vergeet om jou veiligheidsgordel aan te sit of jou verkeerskaartjie te betaal, dan is die gort gaar. Ek dink ons bly in ’n malhuis.
As ek te vinnig ry, word ek beboet, maar as ek in die aand op die nasionale pad ry met ’n groot vragmotor met net een lig of geen agterligte het nie en die lewens van ander onskuldige padgebruikers in gevaar stel, dan kom ek met moord weg. Miskien het tyd geword dat ons na aksie oorgaan en laat dit net nie meer by praat bly nie.
|