6.03.2008
Hulde aan Andries Alberts
ANDRIES Alberts, agterkleinseun van die Dorslandtrekleier, Gert Alberts, gebore 8 September 1909 te Humpata, Angola, is op 23 Januarie 2008 op die rype ouderdom van 98 jaar op Groblersdal in Suid-Afrika oorlede. Hy was in Angola meer bekend as die kleinseun van die legendariese oom Andries Alberts van Humpata, ‘n man wat alles veil gehad het vir die opvoeding van Afrikaner-kinders in Angola.
In Suidwes en Namibië was hy bekend as die seun van Peet Alberts van Kamanjab. Met die repatriasie van Angola- Afrikaners na Suidwes-Afrika in 1928 het hy as 19-jarige seun sy pa op die plaas Kamanjab C, wat vandag die dorp is, help boer.
Van kleins af was Andries Alberts leergierig en ondersoekend, met ‘n onversadigbare leerywer en deursettingsvermoë. Na sy basiese onderwys by Boere-onderwysers het hy eers ‘n Portugese laer- en later die hoërskool van Liceu te Sa da Bandeira bygewoon.
Die natuurwetenskappe was sy groot belangstelling. Na hul vestiging op Kamanjab volg hy ‘n Engelse korrespondensiekursus (Londen) om sy matrikulasie te verwerf. Daarna het hy aan die Universiteit van die Witwatersrand sy BA-graad voltooi en sy Onderwysdiploma aan die Johannesburgse Normaalkollege. Engels was sy hoofvak en hy het dit as onderwyser selfs aan Engelse leerlinge onderrig.
Hy bly egter steeds student en bekwaam hom verder in vakrigtings soos fisika, wiskunde en sterrekunde. Benewens ‘n paar swart tale wat hy kon praat, bestudeer hy ook Latyn, Frans, Duits, Russies en Afrikaans. Hy het baie woorde en uitdrukkings van die Angola-boere se termeskat aan die WAT voorsien.
Van sy hoogleraars het bekende karakters soos C.M. van den Heever, J.J. le Roux en Abel Coetzee ingesluit. Elizabeth Eybers was van sy studentemaats. As denker-skrywer was hy veral liries aangelê, maar hy kon dit nooit sterk genoeg beklemtoon dat die Afrikaner nooit werklik onafhanklik kan wees as hy nie ook ekonomies sterk en doeltreffend is nie. Met sy swaar verdiende spaargeldjies het hy laat in die jare 30 van die vorige eeu aandele in die pas gestigte Volkskas Bank gekoop.
Hy het die stigter van die bank, J.J. Bosman, persoonlik in Pretoria gaan besoek en met hom beraadslaag oor die ekonomiese toekoms van die Afrikaner. Hy het ook ‘n lid van die Reddingsdaadbond geword in 1939 en met dr. N. Diederiks, die sekretaris en latere president van Suid- Afrika, en met vader Kestell gekorrespondeer oor die ekonomiese opvoeding van die Afrikaner.
Op 36 jaar tree hy in die huwelik met Carolina Heyneke en een seun, genaamd Rots (die Afrikaanse ekwiwalent vir die Latynse Petrus) is uit die huwelik gebore. Nadat hy die onderwysberoep verlaat het, het hy twintig jaar lank in die Kamanjab-omgewing geboer, waarna hy hom op Groblersdal in Suid-Afrika gaan vestig het.
Andries Alberts was ‘n veelsydige mens met ‘n eiesoortige lewens-, mens- en godsdiensbeskouing wat nie by almal byval gevind het nie. Uit sy pen het verskeie boeke verskyn, waarvan "Swart Weerlig", "In Vreemdelingskap" en "Twee gelooflose Christene" die bekendste is. Laasgenoemde was ‘n weerspieëling van sy worsteling en Christelike geloofstryd, juis omdat hy dinge so diep ondersoek en daaroor nagedink het en mense se optrede beoordeel het.
In persoonlike korrespondensie het hy egter gedurende die laaste jaar van sy lewe bevestig dat hy weer sekerheid oor sy Christelike geloof verkry het. Hy het spesiaal sy broer Willie in die noorde van Namibië besoek om daaroor te getuig. Die wese van sy filosofie was positiewe denke met as leuse: dink vir jouself, haat die leuen en koester die waarheid.
Dit was vir hom tragies-ironies dat die mens, die kroon van die skepping, ‘n afskuwelike parasiet geword het. Hy het vrees as die grootste vyand van die mens beskou en die waarheid as die beste teenvoeter daarteen vooropgestel.
Met die saamtrek van Dorslandtrek- nasate te Swakopmund in 1998 het hy onder meer die volgende aan die feesgangers as boodskap gestuur: "In vreemdelinskap in Angola het ons voorouers ‘n kulturele volkstaat onder die Portugese regering opgebou.
Hul ossewaens en ploeë het handel en nywerheid gestimuleer en ‘n ekonomie gevestig. Onderwys vir hul kinders was altyd die hoogste prioriteit, daarom het hulle onderwysers, dokters, doktore, professore, skrywers, regsgeleerdes, politici, sakemanne, amptenare, predikante, valskermsoldate, brigadiers, polisiemanne, ingenieurs en modelboere geword.
"In die die nuwe bedeling moet nou opnuut ‘n eerbare toekoms beplan en geskep word. Die voorwaarde daarvoor is werk en nogmaals werk. "Doen jou werk met jou eie hande en jou eie brein. Wees bereid om enige werk en alle werk self te doen.
"Vergeet om te heers of te regeer, maar onthou om te dien en die land waar jy woon te help opbou. Leer jou kinders spesiaal om lewenslank hard te studeer en om vir hulleself te dink, want as hulle nie krities en wetenskaplik kan dink nie, sal hulle giftige propagandastories glo, verdwaal en verdwyn."
In die woorde van sy neef, ook Andries, "het een van die laaste Angola-skakels die Afrikaner ontval, ‘n Boere-Afrikaner in murg en been. "Hy was doelgerig, hardwerkend en vasberade, ‘n briljante student wat elke geleentheid tot selfontwikkeling aangegryp het. Inderdaad ‘n merkwaardige man!