24.5.2012
 Argiewe:

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

1.09.2010

Gevind – deur die Genade


“Die rokkie wat ek aangehad het, asook die pop wat Ma vir my gemaak het,” skryf me. Pretorius.

Drix Pretorius skryf:
 
LIEWE Jacky Siwambo, Jou verdwaalstorie wat onlangs in die koerant was, het my weer vol nostalgie gelaat terugdink na Aprilmaand 1943, toe ek dieselfde ding as jy oorgekom het – verdwaal. My ouers het op die Kalkplato gewoon, reg oos van Asab op die plaas Springbokvley, in die Mariental-distrik.

Ek, toe byna drie jaar, en my ma was alleen by die huis, want my pa het by my oupa en oom, so drie myl daarvandaan, skaap geskeer. Ons het ’n hanskoei gehad, hans grootgemaak vandat sy ’n kalfie was. Nou het sy gekalf en soos koeie maar maak, die kalfie iewers tussen die bosse weggesteek as sy kom water drink het.

Daardie dag het my ma besluit om die koei ongemerk te volg om die kalfie in die kraal te kry, want daar was nog baie ongediertes in die veld wat hom kon opvreet. Ek het saamgegaan. Toe ons die kalfie kry, het Ma gesien dat hy baie klein was en ’n onbegonne taak om hom huistoe aan te ja. Sy het die diertjie in haar arms opgetel en ons het die terugtog begin, maar dit het nie gewerk nie.

Omdat die koei baie mak was, het sy al om Ma gehardloop en ek was histeries van angs. Ma het die kalfie neergesit en ’n ander plan gemaak. Ons is terug huis toe en Ma het my op my stoeltjie voor die agterdeur laat sit en my skoene uitgetrek.

Ek was net in ’n somersrokkie en broekie geklee. Ek moes daar wag terwyl sy die kalfie sou gaan haal. Sy het skaars tussen die bosse wat so skouerhoogte was, verdwyn toe my moed my begewe en ek haar agternagesit het, maar my rigting het my in die steek gelaat, soos menige kere daarna.

Toe Ma by die huis kom met die koei en kalfie, was dit ongeveer vieruur. In die suiderweste was ’n weer aan die opbou en as dit reën in April in die Suide, kon dit geniepsig koud word. Ma was histeries toe sy my nêrens kon vind nie. Sy’t oral gekyk, tot in die sementdam, maar daar was geen teken van my nie.

Terselfdertyd het Kalembe die skaapwagter met ’n paar lammerooie uit die veld aangekom. Ma het hom die erns van die saak laat verstaan en hy moes so vinnig as moontlik my pa gaan haal. Kalembe het verstaan en die daad by die woord gevoeg.

Die drie myl moes in rekordtyd afgelê gewees het, want toe hy by my pa kom, het hy flou geword en hulle moes hom eers lawe voordat hy die nuus onsamehangend kon meedeel. Daar was nie telefone of selfone op ons plaas nie en ’n motor en ’n helikopter was ’n rariteit in ons kontrei. Van die werkers is na die naaste plase gestuur met die nuus en Pa en die res het gestap, gedraf of met ’n donkiekar na ons huis geja.

Pa was in ’n toestand, want ek was sy enigste dogter, ’n laatlam na drie broers wat op Gibeon op skool was. Almal het gebid dat dit tog nie moet reën nie. By die huis het hulle my histeriese Ma aangetref. Van oral af het bure met hul werkers opgedaag totdat daar ongeveer agt en dertig grootmense was.

Lanterns is in die windpomp gehang met die hoop dat ek dit sou sien. Almal het versprei en die plaas begin fynkam. Ek het intussen oor rantjies en leegtes gehardloop, op soek na my Ma. Ek dink Jesus sorg vir ons kleine kindertjies, Jacky, want ek was nie bang nie en het geen pyn ervaar nie, alhoewel my voete soos ’n mat van disseldorings gelyk het.

Toe ek nie meer verder kon nie, het ek langs ’n bossie met blou blommetjies neergeval. Aan die oostekant van die bossie het die wind ’n klein duintjie gewaai en ek het daarop gaan lê en onmiddellik aan die slaap geraak met my gesig na die ooste toe, want die son was die eerste wat ek die volgende oggend gesien het toe ek wakker word. Dit het bloedrooi tussen die bosse deurgeskyn.

Dieselfde oggend het my oom Paul Naudé by my ma-hulle op die plaas aangekom. Hy was ’n gegoede man en was een van die weiniges wat ’n bakkie besit het. Hy het ook ’n Boesman-spoorsnyer saamgebring. Ma het voor by hom ingeklim en nog een van die mans en toe het hulle die spoorsnyer gevolg.

Ongeveer twaalfuur die middag het die spoorsnyer iets gewaar. Hy’t gaan staan en vorentoe gewys. Dit kon ’n springbok wees, maar dit was ek wat agter die bos uitgekom het. Oom Paul en die ander man het gou die deure oopgepluk en uitgeklim en hoe het ek laat waai, doringvoete en al! Vir vreemde mense was ek baie bang en ’n motor het ek tot daardie dag nog nooit gesien nie.

Ma het besef wat gebeur, vinnig uitgeklim en begin roep. Toe ek haar stem herken, het ek gaan staan en sy kon my in haar arms neem. Toe ons by die huis kom, het my pa net uit die veld teruggekom. Iemand het gehardloop om hom te sê dat hulle my gekry het.

Hy het op sy knieë neergesak en sy gesig in sy hande gehou. Dat ek nog leef, het hy vir geen oomblik gedink nie. Ma het met my na hom toe gestap en sy pyn en hartseer het in vreugde omgesit, want ek was my bekkige self, onbewus van die konsternasie wat ek veroorsaak het.

Jacky, ek is bly ek kon my storie met jou deel. Ons is nie werklik helde nie, net oorlewendes, deur die genade van ’n Groot en Almagtige God. Groete, Ouma Drix.