22.07.2008

Daar is baie ander ook

AS die aangeleentheid oor die polisieman wat geld gesteel het nie so hartseer, onregverdig en kommerwekkend was nie, kon dit nogal ook lagwekkend gewees het. Hoewel niemand eintlik daaroor praat nie, is dit tog algemene kennis dat sekere polisie- en staatsambulanspersoneel van die grootste diewe in die land is.

Om dit nog meer afstootlik te maak, steel hulle van weerlose, hulpelose mense wat alreeds swaar verliese gely het en in baie gevalle selfs in lewensgevaar verkeer en van juis hierdie stelende personeel afhanklik is. ’n Vriend wat ‘n private ambulans vir jare bestuur het, het op ‘n stadium aan my vertel dat wanneer hulle ‘n oproep oor ‘n motorongeluk ontvang, hulle soos maniakke reageer om so vinnig as moontlik daar te kom, nie net om lewens te gaan red nie, maar ook om voor die polisie te arriveer.

Die rede? Om die slagoffers van die ongeluk se persoonlike besittings, veral kontant, horlosies, juweliersware, ens. bymekaar te maak en te beveilig. Indien hulle na die polisie opdaag, kon jy maar seker wees hierdie items is weg. Vele slagoffers van ongelukke, asook familie van slagoffers, het al dieselfde storie aan my vertel.

Verder moet ook onthou word dat dooie mense nie kan praat nie. Dieselfde sal dan tog seker op ander misdaadtonele soos inbrake, rooftogte, ens. gebeur. Die vraag is nou hoekom praat almal nie hieroor en lê klagtes nie. Eintlik baie logies. Jy lê die klagte by dieselfde mense teen wie jy dit lê. Wat is die kans dat jy gaan slaag?

Verder is dieselfde persone wie jy by hulleself aankla, ook die persone wat nie net in beheer van die ondersoek is nie, maar ook in beheer van alle bewyse is! Hulle is ook vriende en kollegas van mekaar en het dieselfde modus operandi. Soos hulle in Engels se: “Lost case, don’t even try.”

Geen bewyse, geen saak. In baie gevalle is die getraumatiseerde slagoffers so dankbaar om net te oorleef het, dat hulle nie lus is om nou nog te gaan baklei oor die verlies van aardse goed ook nog nie. Familie van mense wat gesterf het in ongelukke het in elk geval ook geen saak nie, al weet jy daar is ’n ring, horlosie, ens weg, want jy kan op geen manier bewys dat die gestorwene dit gedra het voor die ongeluk nie, al was dit omtrent deel van die persoon se liggaam en is nooit verwyder nie.

Dit bied aan gewetenlose amptenare (en daar is baie van hulle) ’n gerieflike addisionele inkomste as “sideline.” Daar is al ’n algemene grap dat indien jy na ’n ongeluk nie ure wil wag vir die polisie of verskonings soos “ons het nie ’n voertuig nie/ die beampte is nie nou hier nie/ is met verlof/sal later kom/is met ete/ens.” wil aanhoor nie, jy net sê dat jy ’n koedoe gestamp het.

Die polisielid met wie jy praat, sal jou dadelik vra waar die koedoe nou is. As jy sê hy lê daar, daag hulle in rekordtyd op met ’n voertuig wat geskik is om dit gerieflik op te kan laai. Seker as bewys, alhoewel ek nie kan onthou dat iemand al ’n dooie koedoe in ’n hof vertoon of by ’n versekeringsmaatskappy afgelaai het nie. Die motor gaan wel skrootwerf toe, soms minus ‘n paar dingetjiers soos radio, sitplekoortreksels, spaarwiel en ander “accessories.”

Dit laat ’n mens wonder hoeveel geld versekeringsmaatskappye verloor as gevolg hiervan. Ek is self daardeur, ek weet waarvan ek praat. Dit sal nogal interessant wees as die koerant ’n maklik invulbare vorm publiseer wat mense met dieselfde ondervinding kan voltooi en instuur. Die omvang van die probleem, tesame met ’n groot klomp ander statistiek rondom die hele aangeleentheid, kan baie maklik op hierdie manier ingesamel word.

Dit sal sommer ook verduidelik hoekom die publiek in die algemeen so ’n lae dunk van die polisie het, hulle so min ondersteun en eintlik so ver as moontlik probeer vermy. Voeg daarby die effek wat onbevoegdheid ook nog het, en die publiek sien die polisie nie as hulp en beskerming nie, maar as ’n bedreiging. Die owerhede kan seker redelik maklik die bevoegdheidsprobleem deur middel van keuring, opleiding, ens. oplos, maar die misdaad?

Nee, want dit is ’n kultuur en maar net nog ‘n vorm van korrupsie, soos die misbruik van amptelike voertuie waaraan die polisie hulleself in elk geval elke dag skuldig maak. Dit help ook nie om die afgesaagde ou deuntjie te sing van die publiek wat na vore moet kom met die inligting om te help nie. Onthou: Geen bewyse, geen saak. So, hoekom bloos oor iets wat algemeen gebeur? Omdat daar hierdie keer bewyse was? Dit sal seker nie gou weer gebeur nie.