Windhoek slaan Afrika-rekord

Christo Retief - Dit is amptelik. Windhoek is die grootste stad in Afrika en die derde grootste in die wêreld. En Namibiërs kan eersdaags verwag dat daardie rekord verder verbeter gaan word met die beplande uitbreiding van die hoofstad tot teenaan Okahandja.
Hierdie rekord is verlede week behaal nadat die stadsraad die nuwe stadsgrense aanvaar het.
Volgens die wêreldburgemeestersforum, Citymayors, word die grootte van dorpe en stede bepaal op grond van sogenaamde “opgehoopte faktore” wat die totale grondoppervlak, bevolking en samestelling en verantwoordelikheidsgebiede van 'n munisipale owerheid insluit.
Met Windhoek se nuwe grense, is die totale oppervlakte van die munisipale gebied nou 5 133,4 vierkante kilometer en strek die hoofstad vanaf Klein Okapuka en Okatjeru in die Noorde tot by die suidelike grens van die Khomasstreek en in die weste vanaf die plaas Baumgartsbrunn-Wes tot by die plaas Oupembamewa, 75 kilometer oos van Windhoek.
Wat grondoppervlak betref, is Windhoek dus nou die grootste stad in Afrika met Kinshasha in die Demokratiese Republiek van Kongo in die tweede plek met 2 016 vierkante kilometer. Windhoek is dus groter as selfs die totale Johannesburg-Witwatersrand-metropool waarvan die oppervlak nou net 1 644 vierkante kilometer beslaan. Johannesburg word ook geklassifiseer as 'n metropolitaanse munisipaliteit teenoor Windhoek wat as 'n enkele munisipale owerheid ingedeel is.
Die grootste stad in die wêreld is nog steeds Tianjin in China met 'n totale oppervlak van 7 422 vierkante kilometer. In die tweede plek is Istanboel in Turkye met sy 5 343 vierkante kilometer.
Voorheen het Guangzhou in China die derde plek beklee met 'n grondoppervlak van 3 843 vierkante kilometer.
In terme van bevolkingsgetalle, woon altesaam 17,8 miljoen mense in Sjanghai en 8,7 miljoen in Kinshasha. Daarteenoor het Windhoek volgens die 2012 nasionale sensus net 325 858 inwoners. Die bevolkingsdigtheid in Sjanghai is 6 845 mense per vierkante kilometer teenoor Windhoek se skrale 63 persone.
In die Johannesburg-metropool woon 2 364 mense in elke vierkante kilometer.
Windhoek se bevolking groei egter teen 'n verstommende pas en grond vir bevolkingsvesgtiging bly 'n probleem weens die bergagtige terrein in en rondom die hoofstad.
'n Studie wat deur die Wêreldbank se Afrika Streek- en Stedelike Opgraderingsinisiatief met geld van die Noorweegse trustfonds, NTF, gedoen is, het bevind dat die Windhoek-Okahandja-vallei die geskikste gebied is waarheen die hoofstad in die toekoms kan uitbrei. Volgens dié navorsing wat nou deel uitmaak van die Windhoek Struktuurplan, kan sowat 400 000 mense in die vallei of Okahandja-bekken gehuisves word.
In die verslag word die volgende redes aangevoer waarom Okahandja binne die volgende 18 jaar die noordelike woonbuurt van Windhoek gaan word:
• Topografie: Die Windhoek-Okahandja-vallei bied uitgestrekte gelyk areas vir stedelike uitbreiding;
• die stad se hoof pad- en spoorverbindings skakel na die kus aan deur Okahandja; en
• die noordelike bronne van watervoorsiening laat die skaal in die guns van uitbreiding na die noorde swaai.

Kategorie: