14.07.2006 VSA wink vir tekstielbedryf
TERWYL plaaslike tekstielvervaardigers midde onderhandelinge is om toegang tot die Amerikaanse mark te verkry, het die toerusting van United Africa Garments gister onder die hamer beland.
United Africa Garments is die tweede plaaslike groot tekstielvervaardiger wat sy deure in Namibië weens swak markomstandighede en onmededingende pryse moes sluit.
Mnr. Theophillus Röhm, voorsitter van Namibia Garments Marketing Company (NGMC), is van mening dat die twee groot vervaardigers en verskeie kleiner maatskappye hul deure moes sluit aangesien daar geen vaste strukture in die plaaslike tekstielbedryf bestaan het nie. "Indien die tekstielnywerheid in Namibië vroeër reeds georganiseerd was, sou dit moontlik nie nodig gewees het om dié fabrieke te sluit nie," sê mnr. Röhm.
NGMC is 'n maand gelede amptelik geopen met die hoofdoelwit om produkte van tekstielmaatskappye wat 'n lid van dié groep is, op plaaslike, streek- en internasionale vlak te bemark.
Volgens mnr. Röhm wil die plaaslike mark nie met die tekstielmark in China kompeteer nie, maar eerder 'n unieke mark skep met kledingstukke en uitrustings wat buite die Chinese mark val.
"Ons is besig om die finale regsdokumene vir' n raadgewende maatskappy in Amerika te finaliseer. Dié maatskappy sal die bemarkingsagent vir Namibiese tekstielmaatskappye in Amerika wees," sê mnr. Röhm.
Afgesien van uitvoermoontlikhede na Amerika, sê mnr. Röhm is die brood en botter van die Namibiese nywerheid plaaslike besigheid. "Ons doelwit is om te verseker dat die bestaande fabrieke 'n groei van tussen 30 persent en 40 persent handhaaf deur unieke stukke op die plaaslike mark aan te bied eerder as om dit vanuit onder meer Suid-Afrika aan te koop," sê mnr. Röhm.
United Africa Garments was verantwoordelik om uniforms aan die weermag, polisie, gevangenisdiens en natuurbewaringsamptenare te voorsien. Die NDF het egter verlede jaar besluit om sy sakebelange uit te brei en het self 'n fabriek vir die vervaardiging van uniforms onder die maatskappy August 26 Holdings geopen.
Die uitvoerende direkteur van die United Africa Group, mnr. Haddis Tilahun, het bevestig dat die klerebedryf nou wêreldwyd baie kompeterend begin raak het met China wat die grootste verskaffer is. "Daarom het die Africa United Group besluit om sy strategie te wysig en hom eerder toe te spits op diensleweringsprojekte, die gasvryheidnywerheid en eiendomsontwikkeling," het mnr. Tilahun aan Republikein gesê.
Marietjie Naudé
|