24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

17.06.2005

VSA steun Namibië op verskeie gebiede

DIE Verenigde State van Amerika bied hoofsaaklik ondersteuning aan Namibië op die gebied van voorkoming en behandeling van MIV/vigs, onderwys, gemeenskapgebaseerde natuurlike hulpbronnebestuur, demokrasie en regering, asook werkskepping en ondernemingontwikkeling. Onder leiding van die ambassadeur in Namibië, verleen die VSA ondersteuning deur sy Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling (USAid), die Sentrum vir die Beheer en Voorkoming van Peste (CDC), die Vredeskorps en die ambassade in Windhoek.

USAid
Ingesluit by die Amerikaanse president se noodplan vir vigsverligting, het USAid meer as N$1.4 miljard gedurende 1991 tot 2005 aan Namibië geskenk. Hierdie geld is aangewend vir vyf nasionale ontwikkelingsprioriteite, naamlik die voorkoming, sorg en behandeling van MIV/vigs, basiese onderwys, gemeenskapgebaseerde natuurlike hulpbronnebestuur, demokrasie en regering- en ondernemingontwikkeling en werkskepping.

Vredeskorps
Die Vredeskorpsprogram is in 1989 in Namibië van stapel gestuur deur die inisiatiewe van mnr. Nahas Angula, in sy hoedanigheid as Minister van hoër onderwys. Die Vredeskorps is spoedig besig om die getal vrywilligers te vermeerder wat met Namibiërs in vennootskappe tree, ten opsigte van gemeenskapgesondheid en onderwys. Die aantal vrywilligers het van 86 verlede jaar, tot 117 vanjaar gestyg. Daarmee saam gaan 'n begroting van ongeveer US$1.9 miljoen om hierdie vrywilligers se lewenskostes en werk in die landelike gemeenskappe te dek. Die ouderdomme van die vrywilligers wissel tussen 22 en 67 jaar.

CDC
Die Sentrum vir die Beheer en Voorkoming van Peste (CDC) het in 2002 'n kantoor as deel van die Ministerie van Gesondheid geopen. Hierdie kantoor het hoofsaaklik op die stigting van tegniese dienste vir vrywillige berading en toetse, die voorkoming van MIV-oordrag van moeder na kind, antiretrovirale behandeling en tering gekonsentreer. Dit dien ook in die versterking van MIV en MIV-teringwaarneming en om vrywilligers, ter ondersteuning van onderwys en gemeenskaphulp, te kry.

Diplomatieke dienste
Die VSA het reeds voor onafhanklikwording hul diplomatieke teenwoordigheid in Namibië gevestig en die ambassade was op 21 Maart 1990 deur mnr. James Baker, die eertydse Amerikaanse staatsekretaris, geopen. Die ambassade ondersteun opvoedkundige uitruilings vir Amerikaners om by Namibiese universiteite te onderrig, asook om navorsingprojekte te onderneem. Deur die ondersteuning van die ambassade word Namibiërs die geleentheid gegun om ook verdere tersiêre studies in Amerika te onderneem. Wedersydse professionele en kulturele uitruilings word ook ondersteun. Die Selfhelp-program van die Amerikaanse ambassadeur ondersteun werkskepping en inkomstegenererende aktiwiteite, asook projekte wat die sosiale omstandighede van gemeenskappe bevorder.

MIV/vigs: Die president se noodplan vir vigsverligting (PEPFAR)
Namibië geniet reeds vanaf 2000 Amerika se ondersteuning ten opsigte van 'n bewusmakingsveldtog van effektiewe, gemeenskapgebaseerde optrede teen MIV/vigs. Om rede MIV/vigs gesien word as een van die grootste gesondheidsuitdagings, het die Bush-administrasie 'n vyfjaarplan bekend gemaak en is US$15 miljard in 2003 deur hierdie noodplan beskikbaar gestel vir vigsverligting. Dit is die grootste internasionale gesondheidsinisiatief wat ooit in die geskiedenis deur een land onderneem is ten opsigte van 'n enkele siekte.
Namibië is een van 15 lande wêreldwyd wat hulp van die noodplan kry en ontvang ongeveer N$280 miljoen ter ondersteuning van MIV/vigsvoorkoming, -behandeling en -sorgprogramme vir 2005. Hierdie programme word met die samewerking van die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste gekoördineer en reflekteer die prioriteite in die Regering se middeltermynplan vir die bekamping van MIV/vigs (MTPIII).
Volgens die Amerikaanse ambassade is dit te danke aan die Namibiese regering, nie-regeringorganisasies en geloofsgebaseerde organisasies, dat die 2008-mikpunte van die VS-programme reeds teen 2006 bereik kan word.
Daar word beweer dat ongeveer 10 000 Namibiërs tans antiretrovirale behandeling deur die staat en ander mediese fasiliteite kry.
Die CDC se begroting vir 2005 was ongeveer N$130 miljoen en is uitgesit vir 'n span tegniese raadgewers rondom MIV/vigs op nasionale vlak en die voorkoming van MIV/tering, sorg en behandeling. Hulle doel is om die kapasiteit van dienslewering, riglyne, bestuurondersteuning, evaluering en die monitering van die MIV/vigssituasie in die land te hanteer.
Vroeër vanjaar het PEPFAR ook ongeveer N$100 miljoen vir USAid-programme bewillig. Hierdie fondse moet vir hulp asook die ondersteuning en sorg van weeskinders aangewend word, asook in aktiwiteite vir die voorkoming van die verspreiding van MIV en tuberkuloseprogramme. USAid-programme verskaf tuissorg aan 23 000 mense en ongeveer 18 000 weeskinders. Meer as 15 000 Namibiërs het reeds in die verband berading ontvang en MIV-toetse word by 12 landwye sentrums gedoen. Vyf hospitale verskaf antiretrovirale behandeling en dienste wat die voorkoming van moeder-na-kind-oordrag van die virus ondersteun.
Deur gemeenskapgesondheidprojekte probeer die Vredeskorps om streekkomitees vir MIV-onderrig in die twaalf streke daar te stel. Hulle is besig met die installering van digitale telekommunikasiestelsels by die Nasionale Gesondheid en Opleidingsentrum, asook by vyf ander streekkantore vir hierdie doel. Die Vredeskorps fokus ook daarop om vaardighede aan gemeenskappe te leer en gemeenskapuitreiking ten opsigte van die voorkoming van MIV/vigs, die sorg en behandeling daarvan aan te moedig.

Die verbetering van basiese onderwys
'n Onlangse streekonderwysverslag dui daarop dat slegs 'n derde van Namibië se graad ses leerlinge die nodige vaardighede in lees en wiskunde onder die knie het. Deur USAid help die Amerikaanse regering die Ministerie van Onderwys om die kwaliteit van onderrig in Engels, wiskunde en wetenskap in graad een tot sewe te verbeter, deur 4 000 onderwysers met opleiding in nuwe onderrigmetodes te bewillig. Ten opsigte van die MIV/vigs- pandemie, het USAid ondersteuning aan 5 000 weeskinders verskaf, terwyl 1 400 skoolhoofde en onderwysadministrateurs ook rondom MIV/vigs opleiding ontvang het.
Die Vredeskorps se senior primêre en hoërskoolprogramme verskaf vrywilligers wat as onderwysers in vakke soos Engels, wiskunde, wetenskap en rekenaarstudies optree, maar ook aan ander onderwysers ondersteuning bied om die nodige vaardighede aan te leer.

Steun vir tersiêre onderwys en professionele ontwikkeling
Die ambassade se diplomatieke programme het sedert 1990 reeds ongeveer N$58 miljoen aan Namibië geskenk ter steuning van opvoedkundige en professionele uitruilings. 41 Namibiërs het gevorderde universiteitsgrade en professionele vakleerlingskap deur programme soos die Fulbright en Humphrey-programme in die VSA onderneem. Elke jaar gee vier Amerikaanse Fulbrightskoliere klas by 'n Namibiese instelling van hoër onderwys en onderneem hulle dan navorsingstudies in velde soos onderwys, die omgewing, inligtingstegnologie - alles ter bevordering van die land. Behalwe vir hierdie Amerikaanse studente, het meer as 200 Namibiërs Amerika ook deur professionele studieprogramme besoek.
Die English Language Fellows help Namibiese instellings om Engelse onderrigprogramme te ontwikkel, terwyl noue bande ook tussen die Universiteit van Namibië, die Politegnikum en Amerikaanse universiteite gesmeë is.

Bewaring van die omgewing terwyl gemeenskappe gehelp word
Meer as 70 persent van die Namibiese bevolking, waarvan baie in armoede lewe, is in landelike gebiede woonagtig. Hulle is gewoonlik van natuurlike hulpbronne afhanklik vir hul bestaan. USAid help om bewaringsgebiede tot stand te bring en gemeenskappe van hulp te voorsien om hul eie besigheidsplanne op te trek sodat hulle 'n inkomste kan genereer, terwyl hulle die omgewing bewaar. USAid werk ook op nasionale vlak met die Regering en ondersteun die koördinering en die inskakeling van die nasionale beleid en wette wat natuurlike hulpbronne bestuur. Die aantal bewaringsgebiede in Namibië het van vier na 31 gegroei. Dit het teweeg gebring dat 'n bykomende 3 500 werkgeleenthede vir Namibiërs geskep is. Ongeveer 7,87 miljoen hektaar grond is onder bewaringsbestuur en Namibiese wildgetalle toon 'n vaste groeisyfer. Terselfdertyd het die finansiële voordele vir deelnemers in Namibiese gemeenskappe na ongeveer N$2,25 miljoen vermeerder.

Die versterking van demokrasie
USAid het opleiding aan parlementslede verleen om uitreiking na die verskeie streke te verbeter. Ondergedienste landelike gebiede het meer aandag geniet, terwyl die effektiewe gebruik van komitees en openbare verhore aangemoedig is. USAid en die Amerikaanse ambassade se Stigting vir Demokrasie en Menseregte het ook beurse en tegniese ondersteuning aan burgerlike groepe en gemeenskapgebaseerde media-organisasies gegee om hulle in staat te stel om aanbevelings rondom plaaslike aangeleenthede te maak.

Werkgeleenthede en inkomste word verbeter
Namibië se per kapita bruto nasionale inkomste van N$1 930 verskuil die hoogste ekonomiese ongelykheid ter wêreld. Ter ondersteuning van werkskepping en ekonomiese groei, bied USAid opleiding en ondersteuning aan klein en mediumgrootte ondernemings om hul kompetering op streekgebied te bevorder. Wat groei in die private sektor se kapasiteit aanbetref, het USAid meer as 285 bande tussen groot en klein firmas op die been gebring, terwyl dit die besigheidvaardighede van meer as 7 000 Namibiese entrepreneurs versterk het.

Amerikaanse ambassade se program vir die toekenning van kleinlenings
Weens die erkenning van die belangrikheid en waarde van gemeenskapgebaseerde inisiatiewe, ondersteun die Amerikaanse ambassade se Selfhelp-program werkskepping en inkomstegenerende aktiwiteite, asook projekte wat die maatskaplike omstandighede verbeter van gemeenskappe, in besonder die van kwesbare groepe. Projekte wat in die verlede finansiële ondersteuning geniet het, is onder meer hawes van veiligheid vir mishandelde vroue en kinders, sentrums wat gestremdes help, gemeenskapbakkerye en steenmaakprojekte, naaldwerksentrums, sentrums vir die bevordering van algemene vaardighede en 'n groep wat bekostigbare kiste aan families met vigssterfgevalle voorsien. Hierdie program, wat in 1990 van stapel gestuur is, het tot op hede N$12 miljoen se finansiële hulp aan meer as 270 gemeenskapsgebaseerde ontwikkelingsprojekte in Namibië verleen. Verlede jaar alleen is 14 projekte teen 'n geskatte N$375 000 ondersteun.

Rolf Hansen