24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.04.2007

Uitbreiding om armes in Noorde te bemagtig

DIE Shack Dwellers Federation of Namibia (SDFN), 'n landwye behuisingskema vir lae-inkomste inwoners, is besig met 'n diversifiseringsprogram waardeur inkomstegenererende projekte van stapel gestuur word.
Nadat 'n mahangumeul onlangs op Amutanga in die Okatana-kiesafdeling van Oshana amptelik geopen is, is daar ook planne vir 'n kliniek en 'n bakkery om skole in die omgewing van vars brood te voorsien.
Die mahangumeul op Amutanga - wat as "Oha ka yala noloozi lumwe" bekend staan - is deur die goewerneur van die Oshana-streek en ook streekraadslid van die Okatana-kiesafdeling, mnr. Clemens Kashuupulwa, geopen.
Hy het die belangrikheid van die projek beklemtoon en die SDFN bestempel as 'n aktiewe beweging wat gemeenskappe dwarsoor Namibië mobiliseer om oplossings vir hul probleme te vind.
"Die SDFN komplimenteer die sentrale regering deur sosio-ekonomiese uitdagings van die land te pak," het mnr. Kashuupulwa gesê.
Volgens hom is die Regering verbind tot die opheffing van die lewenstandaard van inwoners, maar kan nie alleen hierdie doel bereik nie. "Belanghebbendes moet bronne mobiliseer om armoede in die land te beveg. Dit is ons as burgers wat hierdie land moet ontwikkel," het hy gesê.
Mnr. Kashuupulwa het gesê landelike ontwikkeling is een van die Regering se prioriteite. "Ons waardeer elkeen wat 'n positiewe bydrae tot hierdie projek gelewer het."
Die SDFN word finansieel deur die Namibia Housing Action Group bygestaan en het onlangs 'n memorandum van verstandhouding met Standard Bank Namibia onderteken - 'n stap wat die goewerneur as deel van die openbare/private vennootskap verwelkom het.
Hy het die bank geloof vir sy onvermoeide pogings wat die programme van die sentrale regering aanvul.
Mnr. Haroldt Geiseb van Standard Bank het gesê die betrokkenheid by die SDFN is deel van die bank se maatskaplike verantwoordelikheidsinisiatief.
"Die doel is om mense met lae inkomste te help om die ekonomiese uitdagings te bemeester, om brood op die gesin se tafel te plaas," het hy aan Republikein gesê.
Standard Bank se streekbestuurder vir die Noorde, mnr. Wosman Hamukonda, het by die opening van die mahangumeul gesê armoede is 'n veeldimensionele verskynsel wat nie net tot basiese benodighede soos voedsel beperk is nie.
"Dit gaan ook oor die mate waarin minderbevoorregte lede van die gemeenskap by die ekonomiese aktiwiteite betrek word en hoe hulle voordeel daaruit trek," het hy gesê.
Volgens hom is die "Oha ka yala noloozi lumwe" besparingskema van die SDFN 'n goeie voorbeeld nie net vir die uitwissing van armoede nie, maar dat lede van die skema deelname in die sosio-ekonomiese arena herdefinieer het.
"Standard Bank Namibia is trots op die prestasie wat die SDFN met sy besparingskemas behaal het. Soos telkemale gesê, Afrika moet oplossings vir sy eie probleme vind. As 'n finansiële instelling in Afrika het ons dit op onsself geneem om 'n aktiewe vennoot in die soeke na ekonomiese oplossings vir Afrika te wees om voortgesette ontwikkeling op die vasteland, en in Namibië in besonder, te verseker," aldus mnr. Hamukonda.
Hy het lede van die besparingskema en begunstigdes van die projek van die bank se maksimum ondersteuning verseker.
"Standard Bank Namibia sal institusionele en tegniese kapasiteitsbou voorsien om seker te maak dat die projek en sy deelnemers toegerus is met die nodige sakebeginsels," het hy gesê.
Die geldbedrag wat die bank reeds vir die mahangumeul voorsien het, beloop N$4 300.