14.06.2005 Staatspakhuis Expo geopen
DIE 2005 Staatspakhuis Expo is gister amptelik deur mnr. Joel Kaapanda, Minister van Werke, Vervoer en Kommunikasie, in Windhoek geopen. Die Expo sal van 14 tot 16 Junie aan die gang wees en poog daarin om verskeie ministeries, kantore, agentskappe, asook ander kliënte van die staatspakhuis bewus te maak van die produkte wat beskikbaar is.
Hierdie uitstalling is die eerste van sy soort na onafhanklikwording en sal as forum dien vir die uitruil van menings en bepaling van die behoeftes van hulle kliënte.
Die Minister het gesê dat dit duidelik geword het dat sommige regeringsinstansies oor die afgelope jare nie meer hulle kantoorbehoeftes by die staatspakhuis aankoop nie.
"As gevolg hiervan word slegs 'n klein persentasie van die ongeveer tienduisend items wat beskikbaar is op 'n gereelde basis verkoop. Dit laat die indruk dat staatsamptenare nie volkome bewus is van wat beskikbaar is by die staatspakhuis nie," het hy gesê.
Die staatspakhuis is die sentrale aankoopagent van daaglikse benodighede vir staatskantore en deur ongeveer 26 jaarlikse tenders koop dié pakhuis 'n groot verskeidenheid goedere aan vir die herverkoop aan staatsdepartemente. Hierdie verkooppryse word baie laag gehou, sodat administratiewe uitgawes van die departemente ook relatief min kan bly.
Op die oomblik het die pakhuis 'n jaarlikse omset van ongeveer N$60 miljoen, maar deur die Expo glo die Ministerie van Werke dat hierdie getal met tot soveel as 25 persent sal verhoog.
Mnr. Kaapanda verduidelik dat die staatspakhuis gesien moet word as 'n lopende kostebesparingmeganisme en dit moet elke staatsdepartement se ondersteuning geniet.
Rolf Hansen
|