30.05.2007 Staatshoof se besige Noorde-besoek
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba se besoek aan die vier noordelike streke wat op 18 Mei begin het, het Donderdag ten einde geloop nadat hy by verskeie amptelike funksies opgetree, projekte besoek, nuwe geboue amptelik geopen en verskeie plaaslike leiers ontmoet het.
Mnr. Pohamba het op 18 Mei Tsumeb aangedoen, waar hy die streekgoewerneur, mnr. Penda Ndakolo, en lede van die streek-raad en die dorpsraad ontmoet het voordat hy na Omuthiya gereis het.
Voorbereidings word tans getref om die setel van die Oshikoto-streek van Tsumeb na Omuthiya te verskuif en groot bouprojekte is reeds aan die gang.
Op Omuthiya het President Pohamba deur die nedersetting getoer en lede van die plaaslike ontwikkelingskomitee ontmoet.
President Pohamba was op 19 en 20 Mei op Okanghundi, die nedersetting in die Ohangwena-streek waarvan hy die hoofman is, en op 21 Mei het sy besige skedule vir die dag met 'n besoek aan die Onakayale rehabilitasie-sentrum in die Omusati-streek begin. Hy het later die dag die hoof van die Ombalantu-stam, senior hoofman Oswin Mukulu, ontmoet en afsonderlike samesprekinge met die streekgoewerneur, mnr. Sackey Kayone, en lede van die streekraad en die dorpsraad van Outapi en die Swapo-leierskap in die streek gevoer.
Steeds op die President se agenda vir die dag was 'n besoek aan die Epalela visseryprojek waar hy die bestuurspan van die projek en senior beamptes van die Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne en dié van Landbou, Water en Bosbou ontmoet het.
President Pohamba het dieselfde dag die Etunda besproeiingsprojek besoek waar hy afsonderlike samesprekinge gevoer het met die projekbestuurders en verteenwoordigers van kleinboere.
Hy het ook senior hoofman Daniel Shooya van die Uukolonkadhistam ontmoet.
Die presidensiële besoek op Ruacana het Dinsdagoggend begin met sy ontmoeting met die streekraadslid vir die Ruacanakiesafdeling, mnr. Lazarus Cornelius, lede van die plaaslike ontwikkelingskomitee en lede van die nedersettingsraad asook beamptes wat verantwoordelik is vir watervoorsiening aan die streek.
President Pohamba het die streekraadslid se kantoor, die kantoor van die nedersettingsraad en die landboukantoor amptelik geopen voordat hy die waterkragstasie op Ruacana en die rysplantasie by die landboukollege op Ogongo besoek het.
Woensdag het die President die hele dag op Ongwediva in die Oshana-streek deurgebring waar hy 'n private hospitaal en 'n sakepark geopen het.
Mnr. Pohamba se besoek van ses dae aan die Noorde het Donderdag op 'n hoë noot ten einde geloop met 'n reeks ontmoetings in Oshakati. Hy het die streekgoewerneur, mnr. Clemens Kashuupulwa, en lede van die streekraad en die dorpsraad ontmoet, voordat hy samesprekinge gevoer het met die Swapo-leierskap in die streek. Hy het later afsonderlik met koning Josia Shikongo Taapopi van Uukwaluudhi, koning Jafet Munkundi van Ongandjera, senior hoofman Herman Iipumbu van Uukwambi en senior hoofman Matias Walaula van die Ombadja (Okalongo) Tradisionele Owerheid, ontmoet voordat hy later die dag na Windhoek teruggekeer het.
|