23.11.2005 Spaanse groep kom werk teen vigs
DIE eerste van twee konferensies van die "Medicos del Mundo"-vigsprogram is die week in samewerking met die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste amptelik in die hoofstad geopen.
"Medicos del Mundo" is Spaans vir "dokters van die wêreld" en die program word sedert 2003 en 2005 onderskeidelik in die Erongo- en Kunene-streek aangebied.
Medicos del Mundo (MdM) is 'n Spaanse nie-regeringsorganisasie ten bate van humanitêre aksie en ontwikkelingsamewerking, gebaseer op elke mens se fundamentele regte op gesondheidsorg en 'n waardige lewe.
Die organisasie is in meer as 25 lande wêreldwyd aktief.
In die jongste verslag van die Verenigde Nasies word vermeld dat 26.6 miljoen mense op die Afrika-vasteland met MIV/vigs saamleef. In 2003 is 3.2 miljoen mense met die virus besmet en in dieselfde jaar is 2.3 miljoen mense aan die siekte dood.
MdM het in 2000 reeds die krisissituasie erken en derhalwe 'n MIV/vigsstrategie in Afrika van stapel gestuur.
Uit dié algemene strategiese plan vir die stryd teen MIV/vigs 2000-2004 is 'n tweejaar program bekendgestel. Die program "voorkoming van MIV/vigsoordrag en versorging van slagoffers in vier Afrikalande" is deur die Amptelike Spaanse Samewerking (AECI) goedgekeur en befonds.
Die lande is Nambië, Angola, Senegal en Mosambiek en die program sluit vyf punte in wat veral in landelike gebiede toegepas word.
Verwagte resultate sluit die verbetering en dekking van berading- en vrywillige toetsentrums en meer versorgingsdienste asook beskikbare medikasie landswyd in. Daarbenewens streef MdM daarna om 'n verhoogde bewustheid van die siekte in die samelewing te kweek met die spesifieke doel om stigmatisering te verminder.
Die weeklange konferensie wat Maandag in Windhoek geopen is deur mnr. Richard Kamwi, Minister van Gesondheid en Maatskaplike Dienste, loop Vrydag ten einde en word einde aanstaande jaar in Mosambiek herhaal.
Deelnemers aan die kongres sluit in dokters, verpleegsters en gesondheidwer-kers wat lid van MdM-programme in die vier Afrikalande is.
Mnr. Kamwi het gesê die rol van die internasionale gemeenskap en skenkervennote is krities in die stryd teen MIV/vigs.
"Ek wil die belangrikheid onderstreep wat Medicos del Mundo se rol in die versterking van vigsprogramme in Erongo en die Kunene speel, asook die rol wat hul speel deur as sentrale punt vir samewerkings-aksie te dien," het gesê.
Hy het die hoop uitgespreek dat belanghebbendes in die streke die skenkersgeld na behore sal aanwend tot voordeel van diegene vir wie dit bestem is.
Minette Brink
|