28.06.2005 Sipiere se geld gesteel
GROOTSKAALSE diefstal van geld uit die ontspanningsklubfonds van personeel van gevangenisse landwyd word deur die Kantoor van die Ombudsman ondersoek.
Dít val saam met die donker prentjie wat die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Peter Tsheehama, in die Nasionale Vergadering (NV) geskets het oor die tekorte in sy Ministerie, die agterstallige skuldlas van sowat N$7,25 miljoen wat vanjaar nog gedelg moet word en dat maaltye van gevangenes ook ingekort moet word.
Tans blyk dit dat sowat N$1,4 miljoen uit die fonds weggeraak het en dat minstens drie senior amptenare daarby betrokke kan wees.
Maandeliks word sowat N$38 000 van die salarisse van lede van die ontspanningsklub afgetrek. Dit word in 'n rekening inbetaal wat vir dié doel by een van die handelsbanke geopen is.
Aanvanklik was die fonds gebruik vir ontspanningsdoeleindes van gevangenispersoneel, maar dit is later aangewend om die begrafnisonkoste van familielede te dek. Dié ongerymdhede is glo al teen verlede jaar bespeur, maar het eers sowat twee maande gelede sterk op die voorgrond getree toe van die personeel eise teen die fonds ingestel het en tekorte gevind is.
Uit die wandelgange van die sentrale gevangenis in Windhoek word vertel dat die een amptenaar sowat N$500 000 uit die fonds onttrek het en dat hy nou 'n kontrak laat opstel het waarin hy beweer dat dié geld aan hom geleen is. Hy is glo nou bereid om N$200 per maand aan die fonds terug te betaal.
Blykbaar is 'n ander rekening by dieselfde bank geopen waar die ontspanningsfonds is en is van die geld na dié private rekening gekanaliseer.
'n Ander amptenaar het glo N$700 000 uit die fonds gekry om verbeteringe by sy huis te laat aanbring.
Die ander personeellid wat blykbaar by die diefstal betrokke is, het glo reeds bedank. Hy het na bewering sowat N$200 000 uit die fonds gekry.
"Ek kan bevestig dat ons 'n saak van gevangenisse en korrektiewe dienste ondersoek wat binnekort afgehandel sal wees en moontlik aan die polisie oorhandig sal word. Dit handel oor geldtekorte by die gevangenisse se ontspanningsklubfonds," het die Ombudsman, adv. John Walters, aan Republikein gesê.
In Februarie vanjaar was dieselfde Ministerie in die nuus toe die Ouditeur-generaal, mnr. Junias Kandjeke, in die 2001/2002-jaarverslag onthul het dat gevangenes 'n geldskietskema bedryf en dat die leners almal tronkbewaarders en ander personeel is.
Die begrotingspos van die Ministerie van Veiligheid en Sekuriteit, waaronder gevangenisse en korrektiewe dienste val, word vandag in die NV bespreek.
|