22.05.2007 Sendingstasie 'na die mense gebring'
DIE Rooms-Katolieke Kerk het Vrydag 'n sendingstasie op Omuthiya in die Oshikoto-streek geopen as deel van wat die hoof van die kerk in Namibië, aartsbiskop Liborius Ndumbukuti Nashenda, 'n desentralisasieproses noem.
Twee Angolese priesters - vaders Vitorino Undongo en Clemente Mario - beman die sendingstasie wat 'n pastorale gebied met altesame 15 Katolieke gemeentes oos van Ondangwa en noordwes van Tsumeb sal bedien.
"Gelowiges in dié gebied het vir te lank swaar gekry, met die naaste sendingstasie waar hulle geestelike versorging kon kry sowat 150 km weg," het aartsbiskop Nashenda gesê.
"Die opening van die sendingstasie bring die kerk se dienste naby aan die mense. Dit is desentralisasie. Ons het die behoefte bespeur en dienoorkomstig opgetree."
Die sendingstasie op Omuthiya bestaan uit 'n kerkgebou, 'n priesterskwartier, 'n susterswoning, 'n pastorale opleidingsentrum, 'n kindertuin en 'n dagsorgsentrum vir weeskinders.
Dit is deur Benz Construction opgerig teen 'n totale koste van N$3,3 miljoen.
"Ons het baie geld belê ter wille van die mense van God. Nie omdat die Kerk baie geld het nie. Die Kerk is inderdaad 'n standvastige bedelaar," het aartsbiskop Nashenda verduidelik.
Volgens hom het verskeie instellings en individue tot die oprigting van die nuwe sendingstasie bygedra. Dit sluit in skenkers in Duitsland, die Vatikaan en plaaslike bydraers.
Hy het inwoners teen vandalisme gemaan en die gemeenskap versoek om die twee priesters by te staan.
Die Katolieke het tot onlangs nog net drie sendingstasies in die voormalige Owambo gehad - die Okatana-sendingstasie naby Oshakati en die Oshikuku- en Anamulenge-sendingstasies in die Omusati-streek. Elke sendingstasie bedien 'n pastorale gebied.
'n Sendingstasie is 'n paar jaar gelede op Ongha in die Ohangwena-streek geopen. Die sesde sendingstasie word vir Okalongo in Omusati beplan.
Die twee Angolese priesters wat op Omuthiya gestasioneer is, is lede van 'n priestersorde bekend as die "Sendelinge van Maria van Lasalette", met sy setel in Frankryk.
Hulle is albei Umbundu-sprekende boorlinge van die Benguela-provinsie en het die afgelope tyd 'n sendingstasie naby Opuwo in die Kunene-streek bedien.
Die hoof van die priestersorde in Angola, vader Venancio Nunda, kon nie self Vrydag se plegtigheid bywoon nie, maar het 'n verteenwoordiger, vader Tarcisio Tchiheke, gestuur.
Vader Tchiheke het die slagspreuk van sy priestersorde "versoening tussen God en sy mense" beklemtoon en die plaaslike inwoners vir hul gasvryheid bedank. "Dit wat ons hier gesien en gehoor het, sal ons aan die mense van Lubango oordra," het vader Tchiheke, wat nie Engels magtig is nie, in Portugees gesê.
Sy toespraak is eers deur vader Vitorino na Engels vertaal, waarna diaken Paulus Moses dit in Oshiwambo oorgedra het. Op sy beurt het aartsbiskop Nashenda met vader Tchiheke in Duits gekommunikeer.
"Dit is ongelukkig nog 'n paar dae voor Pinkster; anders kon ek makliker met julle gekommunikeer het," het vader Tchiheke op 'n ligter noot gesê.
|