8.05.2006 President besoek die Noorde
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba het besoek aan drie noordelike streke afgelê en het by verskeie amptelike funksies opgetree, projekte besoek en 'n verskeidenheid plaaslike leiers ontmoet.
Mnr. Pohamba het op 27 April die graadplegtigheid van die Universiteit van Namibië se noordelik kampus op Ongwediva bygewoon en het later dieselfde dag die nuwe kantoorkompleks van Namibië Pos- en Telekommunikasie op Oshakati geopen.
Die volgende dag het mnr. Pohamba die voorsitter van die Ombalantu Tradisionele Owerheid, senior hoofman Oswin Mukulu, ontmoet voordat hy die nuwe geboue van die Omusati- en Kavango-streekrade geopen het. Die seremonie het op Outapi plaasgevind.
President Pohamba het ook die Etunda-besproeiingsprojek besoek waar hy samesprekings met die projekbestuurders, senior hoofman Daniel Shooya van die Uukolonkadhi Tradisionele Owerheid en plaaslike Swapo-leiers gevoer het voordat hy werkers by die projek toegespreek het.
Laaste op die President se agenda vir die dag was 'n besoek aan die Epalela visplaas waar hy plaaslike leiers ontmoet het en werkers te woord gestaan het.
President Pohamba moes sy besoek Saterdag onderbreek om die NUNW-kongres in Windhoek te open, maar het later die dag teruggekeer om die nuwe kantoorkompleks van die Helao Nafidi-dorpsraad in die Ohangwena-streek in te wy.
Sondag het hy 'n erediens by die Engela Lutherse gemeente bygewoon voordat hy vir twee dae na sy huis in die Okanghudi-nedersetting gegaan het.
Hy het ook die leiers van al agt die tradisionele owerhede van die Owambo, asook Swapo-leiers in die Oshana-streek ontmoet voordat hy na die hoofstad teruggekeer het.
|