21.04.2005 'Polisie' beroof man
TERWYL die stadspolisie van Windhoek blykbaar die stadstrate moet veiliger maak, lyk dit of boewe besluit het om dié strenger veiligheidsbewustheid tot hul voordeel aan te wend.
Rowers wat hulle as geregsdienaars voorgedoen het, het in een van die ongewoonste voorvalle van gewapende roof 'n motoris in Katutura van N$300 in kontant, sy motorsleutels en 'n polshorlosie beroof.
Volgens die polisie se misdaadbulletin is mnr. Herman Kruger die betrokke aand omstreeks agtuur in Greenwell Matongo se Evelinestraat deur 'n bakkie met blou polisieligte voorgelê. Vier mans het hom met 'n wapen aangehou en daarna weggery. Die polisie soek steeds na die "kulkunstenaars."
Nog 'n minderjarige is na bewering onlangs verkrag. Die polisie het 'n 21-jarige man in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hy Saterdagaand 'n 11-jarige meisie op Opuwo misbruik het.
'n Vuisgeveg in 'n sjebien in Kuisebmond het in 'n skietgeveg ontaard waarin een vermeende bendelid doodgeskiet en 'n ander ernstig gewond is.
'n Groep van vyf mans het by die kroeg ingestap en mnr. Sebulon Shaumbwa (41) begin toetakel. Toe die sjebieneienaar probeer keer, het hy ook deurgeloop.
Mnr. Shaumbwa het daarna weggehardloop, met die groep aanvallers kort op sy hakke. In Topaasstraat het hulle hom uiteindelik ingehaal en begin skop.
Die vermeende slagoffer het hierop sy vuurwapen uitgehaal en verskeie skote afgevuur. Mnr. Ndungula Lasarus Tangeni (24), 'n beweerde bendelid, is in die maag geskiet, terwyl 'n aanvaller wat mnr. Shaumbwa wou vasgryp noodlottig in die kop gewond is.
'n Derde vermeende bendelid, mnr. Kleopas Jonas (21), is ook gewond en verkeer volgens die polisie in 'n kritieke toestand. Hy is na Windhoek oorgeplaas vir noodbehandeling.
Mnr. Shaumbwa is gearresteer voordat die polisie 'n dossier met een moordklag en verskeie van poging tot moord geopen het.
Moorde is ook by die Epundi- en Omusimboti-nedersettings in die Oshana-streek aangemeld.
In eersgenoemde voorval is mnr. Erastus Martin (24) dood nadat hy in 'n mesgeveg in die bors gesteek is. Sy broer Festus (22) is deur dieselfde voortvlugtende aanvaller gesteek en word volgens die polisie in die staatshospitaal op Oshakati behandel.
Die Namibiese Persagentskap (Nampa) berig dat die 57-jarige mnr. Joseph David van Omusimboti in dieselfde hospitaal oorlede is nadat hy ernstig deur twee tienerseuns aangerand is. Die polisie het sy aanvallers gearresteer.
Volgens Martin Amupolo en sy 17-jarige mede-beskuldigde het mnr. David na bewering hul ma aangerand. Hulle het hom met palmstokke geslaan en 'n spieël op sy voorkop gebreek.
'n Dossier van roekelose en nalatige bestuur is teen die bestuurder van 'n ligte vragmotor geopen nadat hy deur 'n T-aansluiting op Ruacana gejaag het. Een passasier is ernstig beseer toe die voertuig omgeslaan het. Drie ander passasiers is lig beseer.
Die polisie het 'n halfuur nadat 'n voertuig van die perseel van die Oshana veiligheidsmaatskappy op Oshakati gesteel is die motor opgespoor. 'n Man van 23 is in hegtenis geneem.
'n Kind van een jaar en agt maande het by die Omateleko-nedersetting naby Ombalantu in 'n put verdrink.
|