2.09.2005 Opuwo Country Hotel amptelik geopen
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba het Namibia Country Lodges (NCL) geloof vir sy visie en verbintenis om in die plaaslike ekonomie te belê.
Die President se mening was in pas met die eienaar van die NCL-groep, mnr. Johan de Beer, se stelling dat hy vol vertroue is om in Namibië te belê. Mnr. De Beer het N$20 miljoen in die splinternuwe Opuwo Country Hotel belê.
NCL het dusver in die afgelope jare sowat N$150 miljoen in die ontwikkeling van toerisme in Namibië gestort.
Mnr. Pohamba wat verlede week die Opuwo Country Hotel in die Kunene-streek amptelik geopen het, het gesê dat hy nie daaraan twyfel dat NCL van krag tot krag sal gaan nie en in die proses meer werkgeleenthede vir die Namibiërs sal skep.
Ten opsigte van werkskepping is beraam dat toerisme ongeveer 23 000 direkte en 25 000 indirekte werkgeleenthede aan Namibiërs verskaf.
Tydens sy openingsrede het die President die toerismebedryf as een van die sterkste pilare van die ekonomie beskryf, maar terselfdertyd beklemtoon dat dit baie nodig is dat houbare groeitempo in dié sektor nodig is.
"Daar bestaan behoefte vir hoë gehalte diens vir alle toeriste, ongeag of hulle plaaslike, streek- of internasionale toeriste is.
"Ons land is nie eiland nie. Ons ding mee in hoogs mededingende wêreldomgewing waar inligting op versoek beskikbaar is en die toeriste wye keuse het.
"Dit beteken dus dat indien die internasionale toeriste reeks keuses het, ons toerismesektor baie harder moet werk en kompeterende hoë gehalte diens en produkte moet bied om meer toeriste te lok," het die Staatshoof gesê.
Volgens die President vereis die situasie groter vasberadenheid gepaard met uitstekende dienslewering en harde werk van bestuurders en hul werknemers.
Hy het voorts gesê dat die plaaslike hotelle, lodges, restaurante en soortgelyke inrigtings in baie opsigte die Namibiese beeld en sy graad van gasvryheid aan besoekers vertoon.
"Dit is dus van uiterste belang dat al die toeriste en besoekers met hoë gehalte diens en warm gasvryheid begroet moet word wanneer hulle orals in Namibië beweeg."
Mnr. De Beer het tydens sy toespraak gesê dat NCL gedurende die afgelope 10 jaar van sy bestaan 4 000 werkgeleenthede geskep het. Die belangrikste aspek hiervan is dat die werkgeleenthede geskep is in die landelike gebiede waar die meerderheid van die arm mense woon.
"Ons voer tans gesprek en onderhandelinge met bewaringsgebiede waaronder die Uukwaluudhi-bewaringsgebied tussen Opuwo en Okahao om gesamentlike ondernemings op die been te bring.
"Ek doen dus beroep op die Regering om die moontlikheid van gunstige beleggingsaansporingsmaatreëls vir die toerismebedryf te ondersoek soos dit tans in ons buurstate gedoen word.
"Ons wil die speelveld gelyk hou omdat ons daarsonder nie in staat sal wees om deurgaans met ons bure op die ekonomiese gebied mee te ding nie indien die finansiële las van ontwikkeling en bemagtiging slegs op die skouers van die private sektor rus nie," het mnr. de Beer gesê.
|