24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


24 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.10.2007

'Nie net buitelanders kan wetenskap gee'

© Placido Hilukilwa
Die bejaarde me. Priskila Aaron Ngolonga (links) was een van die stigteronderwysers, terwyl me. Victoria Shindume (aan die woord) een van die eerste leerlinge was toe die Enoleu-skool in 1968 gestig is.
DIE streekdirekteur van onderwys in die Omusati-streek, mnr. Lameck Kafidi, is ontevrede oor die gebrek aan belangstelling in wetenskapvakke by meeste skole in die streek. Hy het sy ontevredenheid uitgespreek tydens die viering van die Dag van die Namibiese Kind wat saamgeval het met die amptelike inhuldiging van klaskamers en administratiewe geboue by die Gekombineerde Skool Enoleu in die Etayikiesafdeling. Mnr. Kafidi het namens die Minister van Onderwys, mnr. Nangolo Mbumba, opgetree nadat die Minister weens ander verantwoordelikhede nie die gebeurtenis kon bywoon nie. “Ons het gekwalifiseerde wetenskaponderwysers – ons eie kinders wat in Zimbabwe opgelei is.

Meeste skole gaan egter voort om ongekwalifiseerde mense in diens te neem as wetenskaponderwysers. Daar is ook ‘n wanpersepsie dat slegs buitelanders wetenskaponderwysers kan word,” het hy gesê. Volgens hom het sommige skole sy kantoor genader en toestemming gevra om buitelanders as wetenskaponderwysers aan te stel, terwyl “ons eie kinders” wat as wetenskaponderwysers opgelei is, werkloos is. Mnr. Kafidi het sy toespraak gebruik om die inwoners in te lig dat die streekkantoor van onderwys onlangs van Ondangwa na Outapi verskuif het. Volgens hom sal die desentralisasieproses voortgesit word met die oprigting van ‘n inspekteurskantoor vir skole in elk van die tien kiesafdelings in die streek.
© Placido Hilukilwa
Mnr. Lameck Kafidi toe hy die administratiewe gebou amptelik geopen het. By hom is die skoolhoof, mnr. Isai Nambuli.
Hy het ‘n minimum slaagvereiste vir graad 10 op 85 persent gestel en die leerlinge aangemoedig om hard te werk. “Lees, rus, praat en stel vrae aan onderwysers,” het hy aan leerlinge gesê. Die Gekombineerde Skool Enoleu is een van die min skole in die streek wat oor voldoende klaskamers, water en elektrisiteit beskik. Die skool is in 1968 gestig onder ‘n boom wat as klaskamer gedien het. Die eerste baksteengebou is in 1974 opgerig, maar daar is tans 23 klaskamers en drie bykomende geboue, waarvan een die administratiewe gebou is. Die inwoners se versoek is dat die skool tot ‘n volwaardige sekondêre skool opgradeer moet word. Hoewel die inwoners hul tevredenheid uitgespreek het oor die pas waarteen die skool die afgelope jare ontwikkel het, het mnr.

Kafidi gesê daar kort nog ‘n biblioteek en ‘n laboratorium en hy gaan hierdie behoefte aan die Ministerie oordra. “Hierdie administratiewe geboue moet die plek wees waar ouers vry kan voel om inligting te vra en om ‘n bydrae te lewer tot die opvoeding van ons kinders,” het mnr. Kafidi gesê en die Enoleu-gemeenskap versoek om die skoolinfrastruktuur teen vandalisme te beskerm. Mnr. Valerianus Shitayi, die hoof van die Gekombineerde Skool Onampira wat namens die skoolinspekteur van die Elim-onderwyskring gepraat het, het gesê met die opening van die nuwe klaskamers en die administratiewe geboue het die Regering sy kant gebring.

“Dit is nou die ouers, onderwysers en leerlinge se plig om hard te werk en van die skool ‘n suksesvolle skool te maak,” het hy gesê. Eerw. Temia Nangolo van die Enoleu Lutherse gemeente, wat die seremonie met skriflesing en gebed geopen het, het die leerlinge versoek om hul ouers, onderwysers en leiers op alle vlakke van die gemeenskap te respekteer en om maatskaplike euwels soos alkoholmisbruik en kriminaliteit te vermy. Daar is sowat 600 leerlinge van graad 1 tot 10 by die skool asook 21 onderwysers.