12.08.2005 Namushasha open met nuwe gesig
NAMIBIA Country Lodges het N$8 miljoen ingestoot om Namushasha Country Lodge in Caprivi 'n nuwe gesig te gee.
Die Adjunkminister van die Omgewing en Toerisme, mnr. Leon Jooste, wat die lodge dié week amptelik geopen het, het Namibia Country Lodges vir sy visie geloof om die behoefte te identifiseer om in die toerimse-sektor te belê.
Hy sê met die geld wat in Namushasha belê is om die lodge op te gradeer, voorsien dit nou 'n luukse lodge vir die internasionale en plaaslike mark. "Sulke toegewyde en patriotiese beleggings dra daartoe by dat die toerisme-sektor nou die derde grootste bydraer tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) is. Die beraming is dat die toerisme-industrie in die land tot sewe persent van die BBP bydra wat in geldwaarde sowat N$2,7 miljard is. Dié sektor voorsien ook werkgeleenthede aan sowat 54 000 Namibiërs," het mnr. Jooste gesê.
Tot op datum bedryf Namibia Country Lodges ses lodges met 220 kamers wat strategies oor die land versprei is. Dié lodges is Vogelstrauskluft Country Lodge wat aan die westelike deel van die Visrivier spoelvallei geleë is, die Auob Country Lodge naby Gochas, die Solitaire Country Lodge, die Twyfelfontein Country Lodge naby Khorixas, die Nyae Nyae Safari Kamp in die Tsumkwe area en Namushasha Country Lodge in Caprivi.
Voorts het die maatskappy ook drie hotelle naamlik die De Duine Country Hotel op Hentiesbaai, die Oshakati Country Hotel en die Opuwo Country Hotel wat eersdaags amptelik geopen sal word.
Mnr. Jooste sê sedert 1995 het Namibia Country Lodges meer as N$120 miljoen in die oprigting van lodges en hotelle belê en sowat 400 Namibiërs werk by dié akkommodasieplekke. Hy sê werkloosheid veral in die landelike gebiede is nog 'n bron van kommer en die oprigting van lodges kan help om dit te verlig.
Voorts het die Adjunkminister Namushasha geloof vir die vennootskap wat die lodge met die Mashi-bewaringsgebied aangegaan het. Hy sê dit sal die leefwyse van die plaaslike inwoners verbeter.
Namibia Country Lodges het ook vennootskappe met die Nyae Nyae en Uukwaluudhi bewaringsgebiede en volgens mnr. Jooste kan ander toerisme-maatskappye ook soortgelyke vennootskappe aangaan wat tot voordeel van die plaaslike inwoners sal strek.
|