14.09.2005 NamPort slaag toets met massa rys
NAMPORT is met vlieënde vaandels deur 'n strawwe toets wat Zambië sy in- en uitvoerroetes deur Namibië kan laat strek. Drieduisend ton rys is binne twee dae in die Walvisbaaise hawe afgelaai en op die korridor na Zambië geplaas.
Die hantering van die massa rys is in 'n verklaring deur NamPort bevestig. Terselfdertyd is bevestig dat die Walvisbaaise Korridorgroep kantore in Zambië geopen het om die landgebonde buurman aan 'n uit- en invoerhawe te verbind.
Die vragboot met die drieduisend ton rys het vroeg verlede Dinsdagoggend teen die kaai in Walvisbaai vasgemeer. Laat Woensdagmiddag was die ganse vrag afgelaai. Die flinke diens het volgens NamPort opnuut bewys hoekom Walvisbaai as die voorste hawe langs die Afrika-kus aangeslaan word.
Die vrag rys het gespruit uit bemarkingstrategieë deur NamPort en sy vennote binne die korridorgroep.
Dit span ook die kroon op 'n geleidelike toename in vragverkeer van en na Zambië sedert die opening van die brug tussen Katima Mulilo en Sesheke verlede jaar in April.
Volgens die NamPort-verkla-ring gaan volgehou word met die bemarkingstrategie om Zambië tot diens te wees. Juis daarom is die kantoor in Zambië geopen en om sodoende ook sakeontwikkeling in Zambië aan te moedig.
In die verklaring word weer op die gunstige ligging van Walvisbaai gewys vir handel met die Amerikaanse lande en Europa.
|